
In Zirk van den Berg se jongste roman, Ek wens, ek wens (Kwela, R220), is dít die dilemma waarvoor Seb te staan kom. Hy is ’n lykbesorger en in sy loopbaan by White Lily Funerals moes hy al baie mense voorberei vir hul laaste rusplek. Dis iets wat hy nog altyd met respek aangepak het, en hy doen sy werk goed. Wanneer hy die lyke balsem, die organe terugpak in die lyfholtes en die gesigte grimeer, “moet [hy] die roubeklaers ekstra ontsteltenis spaar deur die afgestorwene so aanneemlik moontlik te laat lyk”. Vir Seb is die voorbereidingskamer sy heiligdom en hy werk eerder daar as wat hy by die begrafnis self diens doen. Partykeer wens Seb vir ’n ingryping wat hom uit sy vervelige bestaan sal losruk.Op ’n dag kry Seb besoek van die terminaalsiek seuntjie Gawie, wat meer wil weet oor wat met sy liggaam gaan gebeur die dag wanneer hy sterf. Tydens die besoek vertel Gawie vir Seb die sprokie van die man wat drie wense gekry het. Soos wat die verhaal sy loop neem, is hierdie besoek die ingryping waarvoor Seb gewens het. Sy hele lewe word op sy kop gedraai. En hy besef die reuse-verantwoordelikheid wat gepaardgaan met wense ...
Die bedrieglik dun boekie is glad nie makaber nie, ondanks die hoofkarakter se werk en die grafiese beskrywing daarvan. Die verhaal boei van die openingstoneel tot die laaste blad. Die sprokie wat geopenbaar word, lei die leser om ook selfondersoek te doen na die kwessies waaroor Seb tob. Ek wens, ek wens is eg menslik, empaties en ’n verhaal wat hierdie leser nie sommer sal vergeet nie. Boonop het dit my weer in wense laat glo!
Ek het per e-pos met Zirk van den Berg gesels.
Wou jy reeds op skool ’n skrywer word?
Ja. Ek het my eerste stories geskryf toe ek twaalf was. Ek onthou die onderwyser het hulle in die klas voorgelees.
Kan jy onthou wat die eerste ding is wat jy geskryf het waarop jy trots was?
Toe ek vyftien was, het ek ’n skoolopstel geskryf met die titel “Die stoel wat Hester gegee het”. Ek onthou my Afrikaansonderwyser het dit vir ander onderwysers gewys, en ek het goed gevoel daaroor.
Jy het as ’n kunsjoernalis gewerk. Het jou joernalistieke agtergrond ’n invloed op hoe jy jou kreatiewe skryfwerk benader?
Eerder andersom. Ek het ’n joernalis geword omdat ek hou van skryf. Ek dink nie ek was ooit juis ’n goeie joernalis nie. Daar is egter elemente van joernalistiek waarby ek aanklank vind, naamlik ’n ondersoekende houding en ’n helder skryfwyse. Ek haat dit as ek iets lees en ek kan nie agterkom wie waar is, wie praat en wanneer dit afspeel nie. Jy kan nie ’n groot duisterheid belig as jy nie van paragraaf tot paragraaf helder is nie.
Jy het ook saam met ’n hele klomp joernaliste gewerk wat later skrywers geword het. Wil jy iets hieroor sê?
Ek het saam met André le Roux by Die Burger se kunsblad gewerk. My eerste boek, Ekstra dun vir meer gevoel, sou skaars sonder sy aansporing kon bestaan. Ons baas was Kerneels Breytenbach, wat natuurlik later ook as uitgewer en skrywer bekend sou word. Maar eintlik merkwaardiger is die klomp kollegas wat in die vroeë 1990’s almal saam in Sanlam se kommunikasiedepartement gewerk het. Francois Bloemhof, Deon Meyer, Rudie van Rensburg, Regina Kemp en Jaco Wolmarans en ek het almal boeke geskryf, en Piet Grobler het naam gemaak vir sy illustrasies. Hoop nie ek vergeet nou iemand nie.
Jou gepubliseerde romans is almal in verskillende genres. Waarom verkies jy om nie in een spesifieke genre te skryf nie?
Partykeer kry ek ’n idee vir een soort storie, en partykeer vir ’n ander. Dit sou seker goed gewees het vir verkope as ek kon spesialiseer, maar ek kon dit tot dusver nie regkry nie. (Bygesê, daar is nou al drie historiese verhale, met nog op pad.) Ongeag die genre is dit nog altyd ek wat skryf, en ek vermoed daar is ’n sekere lewensbeskouing wat deurskemer, en dat my manier van skryf deurlopende eienskappe het.
Jy doen ook heelwat vertaalwerk. Hoe moeilik is dit om ’n ander skrywer se woorde te vertaal sonder om sy unieke stem te verloor?
Die goed wat ek vertaal, is nou nie hogere literatuur nie. Dis maklik genoeg om genre-skrywers soos Wilbur Smith of Philip Kerr se stem te behou. Ek hou eers redelik direk by wat hulle skryf, en eers met die latere redigering, wanneer ek al agter die kap van die byl gekom het, bewerk ek die taal om gemakliker Afrikaans te wees.
Jy woon in Nieu-Seeland. Maak dit skryf in Afrikaans moeiliker?
As ek in Suid-Afrika gebly het, sou baie dinge skryfgewys seker makliker gewees het. Dit sou makliker gewees het om ’n teenwoordigheid in die mark te handhaaf, om mense te herinner dat ek bestaan. En dan is Afrikaans al twintig jaar lank grotendeels ’n taal wat ek net met my gesin praat. Ek vermoed my taal het agtergeraak by moderne Afrikaans. Maar ek self en die goed wat ek skryf, is nie juis hip of cool nie, en ek dink my Afrikaans is toepaslik vir my boeke.
Jy het naby Ryk Hattingh gewoon in Nieu-Seeland. Was julle vriende en het julle met mekaar oor skryf gepraat?
Ryk was inderdaad my beste vriend in Nieu-Seeland, en ek het Ek wens, ek wens aan hom opgedra. Ons het heel verskillende soorte goed geskryf, maar tog oor die vakkundige aspekte van skryf gepraat. Dis nou as ons nie geskinder het of oor rugby of goed gepraat het wat gebeur het nie. Ek dink Ek wens, ek wens is al van my wat hy ooit gelees het. Hy het glo sy helper by die skoenherstelplek gebel en gesê hy kom nie die dag werk toe nie, hy lees nou eers hierdie boek. Sy positiewe reaksie het vir my baie beteken.
Het jy ’n vaste skryfroetine, of kan jy enige tyd, enige plek skryf?
Ek kan enige plek ’n paragraaf opmaak, maar skryf die beste as ek in my studeerkamer sit, verkieslik soggens voordat ek my dagtaak begin, en baiemaal saans. As ek nie by my skryftafel werk nie, sit ek meestal op ’n gehawende ou gemakstoel met breë leunings wat my rekenaarmuis akkommodeer, met ’n skootrekenaar op my knieë. Skryfwerk gebeur eintlik in ’n mens se kop, en die rekenaar is maar net ’n manier om dit vas te vang.
Jy het in 2014 die kykNET-Rapportprys in die rolprentkategorie gewen met jou roman ’n Ander mens. Het dit druk op jou gesit met die skryf van jou volgende romans?
Jy kan jou nie aan drukgroepe steur nie, het Hennie Aucamp my reg aan die begin van my loopbaan gemaan. En ek probeer om maar net van dag tot dag te skryf wat ek graag sal wil lees, sonder om te veel te dink oor wat mense van my verwag. In elk geval, toe ek daardie prys kry, was dit al iets soos vyftien jaar nadat ek die boek begin skryf het, en tien jaar nadat hy oorspronklik in Engels verskyn het. Ek het lankal aanbeweeg.
Die hoofkarakter in jou jongste roman, Ek wens, ek wens, is ’n lykbesorger. Die werk van ’n lykbesorger kan nogal makaber wees. Tog skryf jy met geweldige empatie daaroor. Wat was die vonk vir die verhaal en hoe het jy die navorsing aangepak?
Sover ek kan onthou, het ek van meet af die gedagte gehad dat die ou wat begin glo hy kan iets wens wat waar gaan word, ’n lykbesorger is. Dit was nooit ’n doelbewuste besluit om die beroep te laat figureer nie. Ek het toevallig ’n lykbesorger geken, en hy het my rondgewys by sy werk en my vrae geantwoord. Ek het later by ’n ander een ook gaan kers opsteek oor die begrafnisaspek van die beroep. Snaaks genoeg het ek nadat ek die boek geskryf het, nogal intensief betrokke geraak by ’n ketting begrafnisondernemings en met tientalle mense in die beroep gepraat. Gelukkig het ek toe niks agtergekom wat weerspreek het wat ek geskryf het nie.
Weet jy vooraf waarop jou verhaal afstuur, of ontwikkel die gebeure soos wat jy skryf?
Meestal kristalliseer die verhaalgang gaandeweg terwyl ek skryf. Ek het gewoonlik ’n situasie in gedagte wanneer ek begin, en dan skryf ek wat vooraf gebeur wat daardie situasie tot gevolg het, en/of dit wat uit die situasie voortspruit. Met Ek wens, ek wens het ek eers net ’n begin gehad – die seuntjie wat by die lykbesorger kom kuier en vir hom die sprokie van die drie wense vertel. Dit het my die beste deel van ’n dekade gevat om uit te werk wat om met die idee te doen.
Die verhaal word agterop die boek as ’n sprokie vir ons eie tyd beskryf. Stem jy saam daarmee?
Ja wat, die beskrywing deug. Al is dit nie noodwendig ’n sprokie nie. Al het dit nie noodwendig ’n boodskap vir ’n spesifieke tyd nie. Daar is egter ’n sprokieselement in die storie, en dit speel eietyds af en ek hoop mense lees dit nou.
Aan die begin van die verhaal is Seb se verhouding met sy kinders afgestomp, maar sy ontmoeting met die sterwende seuntjie Gawie raak hom diep. Hoe het dit hom verander? Het dit hom meer bewus van sy kinders se emosies gemaak?
Ek wil my liefs nie op hierdie terrein begeef nie – laat die lesers en literatore maar die boek ontleed as hulle wil. ’n Boek is ’n masjien wat lesings genereer. (Soos in readings, nie lectures nie, hoewel lg. ook moontlik is.) Die boek is nou uit my hande uit.
Waarom die titel Ek wens, ek wens?
Dis maar soos ’n kind sou sê. Ek wens, ek wens vir dit of dat. Daar is vir my ’n versugting in waarby ek aanklank vind, en ek hoop lesers ook.
As jy net een wens gehad het, wat sou dit wees?
Ek sou iets groots wou wens, soos dat mense oraloor ophou om nonsens te glo. Dit sal die wêreld ’n vreedsamer, welvarender en vriendeliker plek maak. As ek my wens tot my eie lewe moes beperk, sou ek wens dat geen groot ongeluk my en my gesin se lewe kom beduiwel nie. Ons is oukei om self voort te foeter.
Watter boeke lê op jou bedkassie?
Ek het nie ’n bedkassie nie. Maar as ek een gehad het, sou ek benewens die boek waarmee ek besig is, graag die volgende boeke daar wou hou: Man’s Search for Meaning van Viktor Frankl, King Solomon en The Life Before Us van Romain Gary en The Following Story van Cees Nooteboom. Dis boeke wat ek graag herlees.