Whitey (Tafelberg, R330) vertel hoe James Wellwood Basson ontwikkel het tot ’n legende in die sakewêreld, ’n reus in die kleinhandel.
Van jongs af het Whitey anders gedink as die ander boerseuns van die omgewing, onthou sy suster Juel. Toe reeds het hy planne gehad om boerdery te meganiseer sodat dit vlotter kan verloop.
Maar een van die dinge wat sy wiskundige brein skerper as skerp gemaak het, was die somme wat hy en sy pa saam gemaak het. Hulle het bereken hoeveel graan per hektaar die distrik se boere sou oes en wat die inkomste daarvan sou wees. Whitey het meermale beter bereken as sy pa.
Dis geen wonder dat sy belangstelling in handel en die sakewêreld toe reeds geprikkel is nie.
Dis ’n boeiende lewensverhaal wat die leser ook lei om Whitey se sakebeginsels te verstaan en te bewonder! Sy gefokusde manier van werk en die feit dat hy sy mening openhartig en eerlik uitgespreek het, het gemaak dat mense presies weet waar hulle met hom staan.
Sedert 1979, toe hy ’n paar winkeltjies gekoop het, het hy Shoprite stilweg uitgebou en verder laat groei toe hy Grand Bazaars en die sukkelende Checkers oorneem.
In Suid-Afrika se beroemdste oorname koop hy OK Bazaars vir net een rand. En binne ’n jaar is dit winsgewend. Só word Whitey bekend as ’n sake-genie.
Vir mense wat aan die ontvangkant van Whitey se skerp tong was, was dit nie altyd maklik nie, maar hulle kon sy logika insien. “Ek was ’n harde taskmaster by Shoprite, maar ek het altyd my mense se behoeftes vooropgestel. En ek was baie regverdig. Ek dink nie daar is een persoon wat kan sê ek was nie regverdig nie. Mense het ook presies geweet waar hulle met my staan.”
Ek het per e-pos met Niel Joubert gesels oor een van die boeiendste biografieë wat ek al gelees het.
Waarom wou jy juis ’n biografie oor Whitey Basson skryf?
Die idee het al ontstaan met sy aftrede in 2017 en nadat die Steinhoff-bom gebars het. As sakejoernalis het ek ’n paar keer na Whitey geluister en altyd gedink hy is verskriklik interessant en ’n kleurvolle karakter. Sy sêgoed het selfs as “Whiteyismes” begin bekendstaan!
En sy verhaal is merkwaardig – hy het iets ongeloofliks reggekry om Shoprite uit te bou tot die grootste voedselkleinhandelaar in Afrika en die grootste private werkgewer in Suid-Afrika.
En natuurlik was hy een van die min mense wat teen die samesmelting van Steinhoff en Shoprite gekant was en sodoende kon hy Shoprite van die Steinhoff-debakel red.
Die biografie is met Whitey se goedkeuring en samewerking gedoen. Was dit moeilik om hom te oortuig dat jy die man is om sy verhaal te skryf?
Ek het hom saam met die uitgewer van Tafelberg by sy restaurant op Mont Marie by Stellenbosch ontmoet om hom te oorreed. Ons het dadelik aanklank by mekaar gevind en daardie middag ’n hond uit ’n bos gesels. En die rooiwyn het ook lekker gevloei!
Soveel so dat Whitey my vlug terug Johannesburg toe na die volgende dag verander het en aangedring het dat ek daardie aand by hom moet braai, waar ek ook sy vrou, Annalise, ontmoet het.
Die volgende dag het hy laat weet: Kom ons doen dit! Maar ek dink my unieke vaardighede en ervaring, eers as rekenmeester en daarna as sakejoernalis, was ook deurslaggewend.
Hoe het jy te werk gegaan om hom na te vors? Vertel my ook meer oor die skryfproses asb.
Die beginpunt was om soveel as moontlik boeke te lees oor Whitey en Shoprite, ook aanlyn, waarna ek ’n tydlyn en hoofstruktuur opgestel het van sy lewe. Ons het uiteindelik besluit op ses oorhoofse afdelings.
Ná my aanvanklike navorsing het ek en Whitey maandeliks probeer om die laaste Donderdag en Vrydagoggend te sit en gesels, beginnende by deel een, en so het ons aangehou tot deel ses. En elke naam wat opgeduik het, sou ek probeer kontak en mee gesels – in persoon, oor die telefoon of Zoom, of per e-pos.
Die Bassons het ook ’n ongelooflike argief bestaande uit briewe, koerante, foto’s, boeke en ander materiaal wat ek gebruik het. En dan het ek elke Shoprite-jaarverslag gelees en aanlyn verder navorsing gedoen oor die onderwerpe wat bespreek is.
Ek het ure en ure se onderhoude self getranskribeer en so die legkaart, met die hoofstruktuur en tydlyn as buitelyne, begin bou.
Dis duidelik uit die boek dat Whitey nie oor Job se geduld beskik nie, veral as hy reeds in sy kop besluit het hoe hy wil hê dinge moet werk. Het dit jou benoud gemaak tydens die skryfproses, dat jy hom dalk sal antagoniseer?
Whitey kan maar moeilik wees, want hy weet wat hy wil hê. Ons het egter vanaf die eerste dag besluit dat ons saamwerk aan hierdie projek, en Whitey het my altyd net met die grootste respek hanteer, en ek natuurlik vir hom.
Ons het soms koppe gestamp oor hoe sekere goed gesê of benader moet word, maar beide met die wete dat ons dieselfde doelwit het – om sy verhaal en dié van Shoprite na die beste van ons vermoë te vertel.
Familie speel ’n belangrike rol in Whitey se lewe, nie net sy bloedfamilie nie, maar ook sy Shoprite-familie. Kan jy hieroor uitwei asb.
Whitey se familie en gesin is vir hom ongelooflik belangrik. Sy ouers het ’n groot rol in sy lewe gehad en hoe hy dink oor die wêreld, en hy is al 50 jaar getroud met Annalise, wat ’n rots vir hom was en is.
Uit die staanspoor het hulle mekaar se rolle verstaan en uitgestippel – hy sal Shoprite ’n sukses maak, en sy sal na die sake by die huis omsien. Whitey het ongelooflik hard gewerk en was baie naweke en vakansies aan die gang, maar het sover as wat hy kon altyd tyd vir sy kinders gemaak.
En die kultuur by Shoprite was altyd een van ’n familiebesigheid, al is dit so ’n kolossale maatskappy. Whitey se kollegas was sy vriende, en hy het omgegee vir sy mense, of dit nou die bedryfshoof was of die kassier in die winkel – hy het tyd gemaak vir mense en gee werklik om vir hulle.
Whitey het niks aan die groot klok gehang tydens sy loopbaan nie. In ’n wêreld waar almal (dit sluit groot besighede in) alles op sosiale media uitblaker, is dit verfrissend. Wil jy iets oor sy benadering tot publisiteit sê?
Hy was aanvanklik maar sku vir die media, maar ná die legendariese R1-transaksie om OK te koop het die hele wêreld hom gesoek.
Hy het egter meestal in die media verskyn in verband met Shoprite se resultate, en as dit by die ekonomie kom, veral as inflasie opgeskiet het en kospryse duurder geword het – dan het Shoprite altyd probeer om kospryse so lank as moontlik so laag as moontlik te hou eerder as om die hoër pryse aan verbruikers deur te gee.
Maar hy was nog altyd iemand wat gemeen het dade tel meer as woorde en het sy maatskappy op die winkelvloer bedryf eerder as vanuit sy kantoor. Een groot les van hom is: Ken jou besigheid van voor tot agter!
In ’n land waar ons veg teen werkloosheid is die hoeveelheid werk wat Whitey deur sy loopbaan vir ander geskep het merkwaardig. So lyk dit in die boek. Dink jy dit is maatskappye en besighede se sosiale verantwoordelikheid om ’n sosio-ekonomiese bydrae tot die land se inwoners te lewer?
Ek dink maatskappye se eerste doelwit moet wees om wins te verdien. En hoe groter die maatskappy word, hoe meer mense kan in diens geneem word, en al hoe meer verskaffers kan sake doen met daardie maatskappy. So skep ons meer belastingbetalers.
Gevolglik word ’n siklus geskep van ekonomiese voortvarendheid.
Maatskappye kan ook ’n wyer rol speel om gemeenskappe op te hef, veral in lande soos Suid-Afrika waar armoede en werkloosheid hoogty vier, en soos Shoprite doen met sy korporatiewe maatskaplike investering, bv. ook sy sopkombuise.
Maar soos Whitey ook sê – as die regering dit makliker maak vir ondernemings om sake te doen, sal ons meer suksesverhale hê en meer mense in diens stel, wat maatskaplike druk kan verlig.
Wat is sy een kenmerkende eienskap wat jy bewonder en wat jy dink hom as mens definieer?
Sy merkwaardige oog vir detail – nie net in sy dae as hoof van Shoprite nie, selfs nou met die skryf van die boek. Maar uiteindelik dat hy ander mense se lewens wou beter maak, of dit nou sy kollegas was, die duisende Shoprite-werknemers, sy honderde verskaffers, of die miljoen klante aan wie hy reg oor Afrika kruideniersware teen goeie pryse kon verskaf.
En wat is die ding wat jy dink Jan Publiek nie van Whitey weet nie en hulle moontlik sal verras as hulle die boek lees?
Ek dink min mense besef watter groot rol hy by Pep gespeel het, voor hy Shoprite begin het. Hy was op ’n jong ouderdom reeds die finansiële hoof en het gou daarna basies die maatskappy bestuur.
Daar het hy sy tande in die kleinhandel geslyp onder leiding van een van sy groot mentors, Renier van Rooyen, die stigter van Pep. Maar ook dat hy ’n aardige streep het, soos hoe hy homself “hipnotiseer” om sommer by vriende se kuiers agter die bank ’n slapie te vang!
Het jy iets by Whitey geleer tydens die skryf van die boek?
Moenie bang wees om (berekende) risiko’s te neem nie. Gryp jou kanse aan! En moenie doekies omdraai as dit by besigheid, of jou loopbaan, kom nie – wees reguit sodat mense weet waar hulle met jou staan.
Lees hier ’n uittreksel uit die boek:
Geboorte van ’n handelsreus
Jy moet ’n mark kies, die produk wat jy verkoop, ken, en glo in wat jy doen. Jy moet doelgerig gefokus wees, en bereid wees om dag en nag te werk. – Renier van Rooyen
Whitey se verhaal is onlosmaaklik verweef met dié van Renier van Rooyen, Pep Stores se legendariese stigter. Soos voorheen vermeld, het Whitey vir Renier ontmoet toe hy vir Brink, Roos & Du Toit gewerk en Pep Stores se oudit oorgeneem het.
“Renier was een van die indrukwekkendste sakemanne en retailers wat ek ooit ontmoet het,” vertel Whitey jare later.
“Hy het die vermoë gehad om ’n nuwe idee te neem en dit in ’n winsgewende besigheid te omskep. Hy was ’n briljante man, ’n goeie bemarker, en het ’n passie gehad om mense van bekostigbare klere te voorsien – nie goedkoop nie, maar bekostigbaar. En hy het sy mark geken.”
Van Rooyen en ’n vriend het in 1955 ’n klein winkeltjie op Upington genaamd The Bargain Shop gekoop. Die winkel het allerhande goedere verkoop, van huisware tot klere en selfs donkiekarre.
In 1959 maak hy sy tweede winkel, Upington Volksklere, oop. Van Rooyen besef gou hy moet konsentreer op die verkoop van klere, skoene, komberse en beddegoed teen afslagpryse in winkels waar klante self deur die voorraad kon soek.
Hy noem sy nuwe winkels BG Bazaars, en teen 1965 is daar vier van hulle in die noordelike Kaapprovinsie. Van Rooyen wil verder uitbrei, maar daarvoor het hy kapitaal nodig.
Daar is groot belangstelling onder vriende en familie, en in 1965 stig hy Pep Stores (Edms.) Bpk. Hy het egter ’n eiesoortige voorwaarde: As jy wil belê, moet jy bereid wees om vir die groep te werk. En as jy vir die groep wil werk, moet jy bereid wees om daarin te belê.
Dit skrik voornemende beleggers af, en uiteindelik samel hy net R50 000 van die beoogde R250 000 in.
Van Rooyen het dikwels die woord “Pep” gebruik om sy kollegas aan te moedig. Hy wou ook iets korts hê wat mense maklik sou onthou, en in Engels en Afrikaans goed sou klink.
John Lee, ’n verskaffer en later ’n direkteur, het met ’n lys voorstelle vorendag gekom, en Van Rooyen het dadelik van die naam “Pep” gehou. Die eerste Pep verskyn op De Aar, in ’n vorige BG Bazaars. In Desember daardie jaar kom ’n Pep in Kimberley by, en net ’n week later nog een op Postmasburg.
Pep Stores kry gou ’n reputasie dat hy skaflike klere teen lae pryse verkoop. Van Rooyen se filosofie is: “Ons verkoop nie goedkoop goedere nie; ons verkoop goedere goedkoop.” Die lae pryse vind byval by mense in laerinkomstegroepe, en groeiende getalle kopers ondersteun die nuwe winkels.
Intussen sluit Christo Wiese hom ná sy regstudie op Stellenbosch heeltyds by Pep Stores aan. Stoffel Wiese, Christo se pa, was ’n belegger, en dien ook in Pep se direksie. Voorts het Van Rooyen in 1954 met Christo se niggie Alice getrou.
In 1965, terwyl Christo nog op Stellenbosch geswot het, het hy ook self in die besigheid belê – R5 000, waarvan hy die helfte by sy pa geleen het. Die plan was altyd dat hy hom ná sy regsgraad by Pep Stores sou aansluit.
Wiese het wel sommige universiteitsvakansies by Pep Stores gewerk, maar toe hy hom in 1967 heeltyds by Pep aansluit, is hy maatskappysekretaris, en tweede in beheer. Hy is ook verantwoordelik vir werwing.
Maar sy grootste taak is om nog persele te soek, en sy hande is vol. Pep groei welig. Teen 1971 is daar 115 takke in die Kaapprovinsie, maar Van Rooyen droom van ’n landwye kettingwinkelgroep. “Daar was nooit twyfel by Renier dat hy een van die grootste kleinhandelaars in die land sou word nie,” sê Whitey.
Van Rooyen en sy span omskep Pep Stores in ’n openbare maatskappy, en reik 350 000 aandele uit teen R1,50 elk, wat privaat verkoop word. Van Rooyen sê die groep wil oor die volgende vier jaar 50 takke per jaar vestig. Pep Stores beplan ook om teen middel 1972 te noteer.
Van Rooyen soek egter ’n geoktrooieerde rekenmeester om die maatskappy vir notering voor te berei, en hy ken net die regte man. Op 1 November 1971 val Whitey, op 25 jaar, heeltyds by Pep in as finansiële bestuurder.