
Ná byna twee jaar van pandemie-troues is die wêreld gereed om weer behoorlike trou-makieties te geniet. Elke jaar stel die sosialefotonetwerk Pinterest ’n spesiale trend verslag bekend. Na aanleiding van wat die meeste gesoek word op dié platform voorspel hulle watter tendense in die nuwe jaar gaan seevier. Ons het na hul voorspellings vir troues en geleethede gaan loer en ’n hele paar nuwe idees gekry. Dít gaan vanjaar groot nuus wees vir troues!
1. Unieke troukoeke
Hoe groter en ongewoon, hoe beter! Al meer mense begin soekterme soos “unusual cakes”, “art cake ideas” en “bubble cake ideas” gebruik wanneer hulle ‘n geleentheid beplan. Hoekom nie gaste se asems wegslaan met jou rok én die troukoek nie?
2. Pêrels
Pêrels geniet ’n oomblik in die kollig – van pêrel-juwele en bykomstighede tot vasgewerkte pêrels op trourokke en sluiers. Deursigtige pêrel-skakerings gaan ook gewild wees vir naels en as grimering op jou oë.
3. Inspirasie vanuit die son, maan en sterre
In 2022 gaan ons inspirasie put vanuit die ruimte en die son, maan en sterre. Dink goud en silwer dekoraksente, glinsterende grimering en maan- of stermotiewe vir jou skryfbehoeftes of selfs vir jou trourok. Soektogte na “moon wedding dress” het met 180% gestyg.
4. Geblok
Geruite ontwerpe het reeds in 2021 se modeontwerpe ’n terugkeer gemaak. Nou spoel dit oor na dekor, naels en mansmodes. Gee jou troue ’n moderne, elegante gevoel met bv. ’n swart en wit geblokte dansvloer of oorweeg ’n geruite pak vir die bruidegom. Jy kan selfs pret hê met ’n geruite patroon aan die binnekant van jou troukoek.
5. Helder kleure
Neutraal staan vir eers terug vir helder, elektriese kleure. Pinterest voorspel reënboogkleure en helderpienk en blou gaan vorentoe groot wees. Gee jou troue ’n energieke kinkel met helderkleure, soos om fuschia-kleurige blomme en dekor te gebruik, of jou bruidsmeisies te tooi in helder pienk, blou of geel skakerings.