Die woord “wittebrood” is genoeg om idilliese beelde van wit strande, turkoois water, eksotiese boslandskappe, dromerige sonsondergange, en ultra-luukse akkommodasie in jou geestesoog op te roep. Maar in 2020 is die wêreld en die troubedryf tot stilstand gedwing. Daar is ook nog geen sekerheid wanneer Suid-Afrikaners weer na die buiteland kan reis nie. Juis, daaroor is dit dalk tyd om ’n kopskuif oor wittebrood-bestemmings te maak. Plaaslik, trots Suid-Afrikaans is jou antwoord.
SARIE het by LekkeSlaap gaan ingeloer om ’n lys van Suid-Afrika se gunsteling-wittebroodbestemmings saam te stel.
Hierdie besonderse area in Limpopo, wat die skrywer en digter Eugène Marais inspireer het, is ’n perfekte wittebrood-bestemming. Die berglandskap en ryk bosveldse plantegroei is genoeg om jou van die wêreld daarbuite te laat vergeet. Spandeer jou dae in die veld – van roetes teen bergpieke uit, tot die kans om in natuurlike watergate te swem, wildritte tot ’n glasie Amarula in ’n oneindigheid swembad met ’n asemrowende uitsig.