Toe die rolprentmakers Donnalee Roberts en Ivan Botha onlangs afgehaak het, het hulle oor twee dae op Blaauwklippen buite Stellenbosch ’n bruiloffees gehou. Die Vrydag was hul huweliksbevestiging en onthaal met bekendes soos Simoné Nortmann, Amalia Uys, Danie du Toit van Spoegwolf, Nico en Christi Panagio onder die gaste. Die Saterdag was daar ’n intieme langtafel vir hul naaste familie en vriende. Vir dié spesiale ete is die glaskatedraal op die landgoed met honderde liggies en kerse, tulpe, pinksterrose en bessies in herfskleure versier.
Natuurlik was alle oë op die bruid. Haar twee trourokke het Donnalee se styl volmaak vasgevang: romanties, klassiek, sjiek, boheems. En haar grimering en hare het elke voorkoms pragtig afgerond.
Alicia Buckle het Donnalee se grimering en hare vir die Vrydag se feesvieringe gedoen.