Opsoek na ’n trou-venue? Dít moet jy onthou

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
FOTO: Unsplash
FOTO: Unsplash
Vir nuut verloofde paartjies is die eerste groot troureëling dikwels die keuse van ’n venue waar hul droomdag kan afspeel.

Volgens Ameré Prinsloo de Smidt, venue bestuurder by 401 Rozendal in Stellenbosch, kan die venue waar jy trou die maak of breek van jou troudag wees, omdat dit die beginpunt van alle toevoegings soos blomme, dekor en foto’s is.

Hiér is sewe wenke om in gedagte te hou wanneer jy na jou droom venue soek:

1. Stel eers ’n kortlys saam

Dink vooraf mooi oor wat julle as paartjie soek in ’n trou venue voordat julle begin om venues te besoek, sê Ameré. Dink aan watter styl en atmosfeer julle wil hê, hoeveel gaste julle wil nooi, wat die begroting is en die ligging waar julle wil trou. Doen navorsing oor verskillende venues en bestudeer hul foto’s en pakette. Sodra jy ’n kortlys opgestel het kan jy reël om na die venues te gaan kyk. “Só verseker jy dat jy nie tyd mors op venues wat jy baie van hou, maar nie binne jou begroting of spesifikasies pas nie.”

2. Dink aan die ligging

“Oorweeg die ligging van jou troue noukeurig. Die venue moet toegangklik wees vir diensverskaffers en gaste.” As jy in die stad trou, is bv. genoeg parkering, is die kerk naby aan die onthaalsaal, is daar vertrekke en areas waarin die bruidspaar kan aantrek en foto’s neem. As jy op ’n afgeleë venue trou, maak seker daar is genoeg akkommodasie vir gaste op die venue of naby in die omgewing.

Het jy geweet?

SARIE Bruid se aanlyn-trougids bevat verskeie venues regoor die land. Besoek vandag nog bruid.sarie.com om jou gunstelinge te kontak!

3. Pasop vir versteekte kostes

Bevestig met die venue wat word alles by hul troupakkette ingesluit. Word daar bv. kos, verblyf, tafels en stoele, tafeldoeke en kelners ingesluit? Die inhuur van sekere items kan ’n groot verskil aan jou begroting maak, sê Ameré.

4. Bespreek betyds

Bespreek jou venue ten minste ses maande voor jou beplande troudatum. As jy in die hoog-trouseisoen wil trou of op ’n publieke vakansiedag moet jy ten minste ’n jaar vooruit bespreek omdat dié datums gewoonlik gewild is. In SA is die somer en herfsmaande die gewildste vir troues.

5. Wees slim met ’n klein begroting

As die begroting knyp, kies ’n trou venue wat klaar ’n mooi uitsig en karakter het, is Ameré se raad. Dit gaan die dekor, blomme en verhuringskostes verminder omdat jy nie veel meer gaan nodig hê om die venue mooi te maak nie. Kies ook ’n venue wat die meerderheid van dienste reeds by die pakket insluit.

Wenk!
 ’n Goeie maatstaf is om seker te maak die koste van jou venue en kos oorskryf nie meer as 50% van jou totale begroting nie.

6. Doen jou navorsing

Wanneer jy ’n venue oorweeg, gaan loer na vorige troues wat min of meer dieselfde tyd van die jaar as jou gekose troudatum daar plaasgevind het. Dit kan jou ’n goeie idee gee van hoe die venue gaan lyk en watter opsies jy het om die venue ten volle te benut.

7. Onthou dié vrae met ’n besoek

Wanneer jy na ’n moontlike venue gaan kyk, vra soveel as moontlik vrae sodat daar geen verrassings later is nie. Ameré meen paartjies vergeet dikwels om dié vrae te vra:

  • Wat is alles ingesluit in die venue prys?
  • Is daar akkkommodasie beskikbaar op die perseël?
  • Is daar ’n kragopwekker in die geval van ’n kragonderbreking?
  • Wat gebeur as die Covid-19 regulasies vererger? Wat is hul terugbetalingsbeleid in die geval van kansellasies?
  • Is daar enige reëls en regulasies rondom die opstel en afslaan van die troue?
  • Is daar ’n aandklokreël en kan daar harde musiek gespeel word?
  • Het die venue ’n dranklisensie en is daar kurkfooie?
  • Is daar enige ekstra verpligte kostes of diensverskaffers wat gebruik moet word?


JONGSTE UITGAWE

Julie/Augustus-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees