
Sedert sy in Oktober 2017 as SARIE Voorbladgesig aangewys is, het Yolani Abrahams diep in die harte van Suid-Afrikaners geklim. Terwyl talle lesers haar treffende wenfoto onthou, is Yolani - mede-eienaar van die restaurant Kole & Deeg - deesdae ’n geliefde TV-sjef. En op 23 Oktober 2021 het sy ook die rol van eggenoot aangeneem toe sy en Anwar Abdullatief ewige trou aan mekaar beloof het.
“Ek het twee rokke op die dag gedra - een vir die Moslem-geloof met ’n headscarf en dan een vir die white wedding ceremony sonder die headscarf,” vertel sy. Lees meer oor Yolani en Anwar se unieke en spesiale troudag hier.
Die grimeerkunstenaar Andrea van den Houten het gesorg vir die bruid se natuurlike, maar glansryke trou-grimering. Andrea deel haar top-wenke sodat jy ook Yolani se grimeer-voorkoms kan bemeester.
“Yolani het ’n pragtige vel. Ons wou nie dit onnodig verbloem nie, maar eerder haar natuurlike gelaat komplementeer en haar gelaatstrekke nóg meer beklemtoon met ’n stralende grimeervoorkoms,” sê Andrea.
Haar grimeervoorkoms was elegant en sag met net genoeg glans.
Om te verseker dat die fokus op Yolani se mooi oë bly, is neutrale en subtiele skakerings vir haar wange en lippe gekies, verduidelik Andrea. Oogskadu met ’n glinsterafwerking in skakerings van goud en bruin het Yolani se oë selfs meer laat uitstaan.
Andrea se wenke om dié grimeervoorkoms te bemeester:
- Dis baie belangrik om seker te maak dat jou vel goed bevog is. Wend eerstens jou vogroom en sonskerm aan.
- Kies ’n onderlaag met medium bedekking wat moeiteloos inskakeer. Jou vel moet steeds natuurlik lyk.
- Vir ekstra glans, meng ’n paar druppels van jou gesigolie by jou onderlaag.
- Wend ’n basislaag op jou oogarea aan vir ’n intense oogvoorkoms wat die hele dag sal hou.
- Individuele vals wimperhaartjies is jou antwoord om ’n sensuele, maar tog natuurlike voorkoms te skep.
- Verligter skep ekstra glans om jou voorkoms treffend af te rond.
- Omlyn jou lippe met lipomlyner en kleur dit sommer met dieselfde lipomlyner in vir lippe wat deur die loop van die dag treffend afgerond sal lyk.
Andrea hou van:
1. Avène Hydrance Aqua-Gel (R369)
2. M.A.C Pro Longwear Paint Pot in Groundwork (R330)
3. Ofracosmetics #Ofraglow Signature Palette (R680) Beskikbaar aanlyn by ofracosmeticssouthafrica.com