Ons sit onsself siek. Sit-sit so duik ons gesondheid in die hek. In sy boek Stretch (Pavilion, 2021) verduidelik Roger Frampton, bewegingsafrigter, hoe dit jou liggaamstruktuur verander as jy jou dae op jou agterstewe deurbring.
Dis dan jou spiere en gewrigte se lot om stadig maar seker stywer te raak. Totdat jy eendag besef jy kan nie meer gemaklik hurk, aan jou tone raak of van die vloer af opstaan sonder om jou hande te gebruik nie.
Strekoefeninge is inderdaad iets wat ons alte dikwels verwaarloos en halfhartig doen, sê Hans de Wit, uitvoerende hoof van StretchingSA. Hy bied strek- en spierrehabilitasieklinieke in Gauteng, Noordwes en die Wes-Kaap aan. (Ons kan meestal nie self van spierspanning ontslae raak nie en laat vaar dan strekprogramme te vinnig. ’n Professionele strek-kenner sal jou dit reg laat doen – sonder beserings.)