1. Jy is te inskiklik
Talle vroue (en sommige mans) is geneig om té inskiklik te wees. Volgens Elise Fourie, voorligtingsielkundige van Pretoria, is daar verskeie redes hiervoor.
Selfs in hierdie moderne tyd van gelyke verhoudings gee jy dalk toe aan die tipiese patriargale manier. Jy aanvaar dus die man is in beheer en jy moet onderdanig wees. En dat dit jou plig as vrou is om inskiklik te wees. Jy verkies dalk dat jou man in beheer is en gee toe omdat jy nie die leiding wil neem nie.
Sommige vroue (en mans) se persoonlikheid is ook só dat hulle makliker toegee, omdat jy geleer het jy kan konflik só vermy. As dit egter nie in jou aard is nie, is dit ’n teelaarde vir baie wrokkigheid, woede en frustrasie. Dalk bly jy al lank stil, gee toe en sluk al dié gevoelens. Maar jy kan op ’n dag ontplof en in woede uiting aan die opgekropte wrokkigheid en frustrasie gee, sê sy.
Die gevolge?
- Jy kan voel dat jou behoeftes onbelangrik is, wat jou ongeliefd of ongewaardeer laat voel.
- Jy kan heimlik rebels optree, deur byvoorbeeld baie geld uit te gee, of selfs ’n buite-egtelike verhouding aan te knoop.
Wat om te doen
- Begryp en aanvaar jy het ook regte in die verhouding – en dat joune ook belangrik is.
- Leer om jou behoeftes duidelik oor te dra sodat julle dit kan versoen as dit bots.
- Dis dalk goed vir jou as jy leer om meer selfgeldend te wees, sê Elise. Daar is baie leesstof hieroor.
2. Jy is nie duidelik oor jou verwagtinge nie
Die algemeenste oorsaak van konflik in ’n verhouding is onrealistiese en onuitgesproke verwagtinge, verduidelik Elizma van der Smit, sielkundige van Klerksdorp.
Julle het albei jul eie verwagtinge, gegrond op ervarings en verhoudings uit die verlede. Moenie net aanvaar die ander een gaan soos jy dink en voel nie. Jou verwagtinge is onrealisties wanneer jy dink jou maat “behoort” sus en so op te tree. En dan voel jy seergemaak, kwaad en verward as hy nie optree soos wat jy verwag nie.
Onthou net: Hy kan nie jou gedagtes lees nie. En al dink jy jy stel jou verwagtinge duidelik, is dit dalk nie so glashelder vir hom nie.
Onrealistiese en onduidelike verwagtinge word dikwels uitgedruk met woorde soos: “Jy het my teleurgestel”; “Ek het dit nie van jou verwag nie”; of “Jy was die laaste persoon wat ek gedink het so iets sou doen”.
Wat om te doen
Volgens Elizma moet jy leer om werklik te luister. Maak die “geraas” in jou kop stil en focus op wat hy sê. Moenie reageer voordat hy klaar gepraat het nie. Herhaal wat hy gesê het in jou eie woorde en maak seker jy verstaan reg. Ook dat jou verwagtinge realisties is, sê sy.
3. Onderskat jy dalk die effek van jou stemtoon?
Navorsing bevestig stemtoon het ’n geweldige impak op ons verhoudings – en dikwels is ons nie eens bewus van die boodskappe wat ons só stuur nie, sê Elizma.
’n Stemtoon wat gereeld krities, sarkasties, teleurgesteld, bekommerd of kwaai is, kan ’n verhouding oor die afgrond stuur.
Volgens John Gottman, Amerikaanse verhoudingskenner, verg dit vyf positiewe interaksies om op te maak vir ’n negatiewe een.
Barbara en Allan Pease (Why Men Don’t Listen and Women Can’t Read Maps) sê die gemiddelde man is geneig om sy vrou se stemtoon as óf kalm óf kwaai te interpreteer. Anders as vroue, vir wie daar tussen dié twee uiterstes ’n hele mynveld van stemtone is, onder meer ontsteld, geïrriteerd, vieserig, kwaad, woedend.
Jy reken dalk jy is net selfgeldend. Maar jou man kan enige stemtoon, behalwe ’n kalm een, as aanvallend beleef, sê Elise.
Probeer dus altyd in ’n kalm stemtoon praat. Baie konflik kan só vermy word. Die kans is dan beter dat hy sal hoor wat jy vir hom probeer sê. En hy nie met woede reageer, of onttrek nie.
Vroue is ook goed daarmee om een ding te sê, maar hul stemtoon dra ’n heeltemal ander boodskap oor, sê Elise.
“Nee,” antwoord jy, “daar is niks verkeerd nie.” Maar jou stemtoon sê iets anders.
“Dit is dikwels ’n vorm van manipulering. Jy probeer om hom skuldig te laat voel, of jy wil hê hy moet aanhou vra of alles reg is omdat dit jou belangrik en geliefd laat voel.”
Sommige mans gaan hulle nie deur sulke manipulering laat beïnvloed nie. Hulle gaan wat jy sê as die waarheid aanvaar en daarvolgens optree, sê sy.
Wat om te doen
- Raak bewus van jou stemtoon en byvoorbeeld die boodskap van kritiek, kommer of woede wat dit dalk oordra, aldus Elizma.
- Waak altyd teen ’n emosionele stemtoon. Dit werk nooit nie.
- Die probleem is nie dat jy kwaad word nie, maar wel hóé jy dit uitdruk. Oorweeg ’n sagter benadering.
- Bly in alle omstandighede kalm. Onthou: Kalmte in moeilike omstandighede is ’n teken van volwassenheid, sê sy.
Dit is dus meer doeltreffend om eerlik en in ’n kalm stemtoon oor emosies te praat. Soos: “Ek is vies vir jou, want dit voel vir my asof jy nie my behoeftes raaksien of erken nie.”
4. Seks is nie ’n prioriteit nie
Seks is maar ’n klein deel van ’n huwelik, totdat daar probleme op daardie gebied is, word baie gesê. Vroue maak dikwels nie genoeg tyd daarvoor nie, omdat jy dalk te moeg is, op die kinders fokus, bekommerd is oor geld, kwaad is vir jou man, ’n lae behoefte aan seks het, of dit pynlik is.
Jy doen nie net jou man ’n onreg aan nie, maar ook jouself, sê Elise.
Volgens Elizma is seks belangrik in 'n verhouding aangesien dit julle nader aan mekaar bring en jul emosionele welstand en fisieke gesondheid verbeter. Dis ook ’n veilige hawe teen ’n ongenaakbare wêreld. ’n Verhouding sonder seks (of nie genoeg daarvan nie) is ’n bron van konflik, woede, verwerping, hartseer en selftwyfel wat ’n huwelik uitmekaar kan skeur.
Wat om te doen
Jy moet jou eie en jou man se seksualiteit verstaan, sê Elise. Leer jou man hoe werk jou lyf, emosies en seksualiteit. Jy kan nie van hom verwag om die perfekte minnaar te wees as jy nie self verstaan hoe jou lyf werk nie. Praat oor seks met hom, vertel hom wat jou behoeftes is en waarvan jy hou. En as jy regtig te skaam is, koop vir hom ’n boek.
Koester en vertroetel jouself om meer sensueel te voel. Dra mooi onderklere, gebruik parfuum en smeer lyfroom aan. Sexy het meer te doen met hoe gemaklik jy met jou liggaam, sensualiteit en seksualiteit is, as hoe perfek jou lyf is en hoe jy aantrek, sê sy.
5. Jul kommunikasiestyle verskil
Hieroor is al boeke vol geskryf. Mans en vroue kommunikeer verskillend. Dis maar net hoe dit is. En dis die teelaarde vir baie konflik, sê Elise. As jy die verskille verstaan, sal jy beter weet wat om te doen:
- Hy praat oor een onderwerp op ’n slag – en spring nie van die een ding na die ander, soos jy nie. Fokus dus op een onderwerp as jy wil hê hy moet jou volg.
- Hy wil nie ’n rusie ontleed nie, maar wil weet wat is die probleem, oorsaak en oplossing. Jy moet leer om nie lang diskoerse daaroor te wil voer nie, maar jou behoeftes direk, kort en kragtig oor te dra.
As jy iets vra, sê wanneer dit gedoen moet wees. Wat dringend is vir jou, is nie noodwendig vir hom nie.
Hy ervaar dit maklik as neul as jy oor en oor op iets hamer. Sê liefs: “Dit is vir my moeilik as ek jou iets vra, jy sê ja en kom dan nie daarby uit nie. Ek wil nie neulerig klink nie en sal dit waardeer as jy dit kan doen, soos jy onderneem het.”
- Besef hy gesels nie so veel en so gemaklik oor emosies soos jy nie. Vermy dus ellelange gesprekke daaroor. Dra jou gevoelens weer eens kort en kragtig oor.
- Moenie so taktvol probeer wees dat hy nie verstaan wat jy wil sê nie. Wees direk en op die man af – daar is dan minder misverstande.
- Leer om hom iets direk te vra. Soos: “Neem asseblief die vullisblik uit”, pleks van “Kan jy asseblief die vullisblik uitneem?” In sy gedagtes is die antwoord: “Natuurlik kan ek, ek is nie lam nie …”
Elizma verwys na “warm” en “koue” kommunikasie-style. Jy wil dalk dinge dadelik bespreek en oplos. Gebeur dit nie, voel jy angstig, hartseer en kwaad (warm styl). Jou maat, daarenteen, het dalk tyd nodig om eers af te koel en dinge te deurdink (koue styl). (Geslag speel nie hier ’n rol nie.)
Haar raad
As hy ’n “warm” kommunikasie-styl het, sê jy neem die rusie ernstig op. Dat julle later weer daaroor moet praat, want jy het tyd nodig om daaroor te dink. Maak seker julle doen dit wel. Moenie aanvaar die probleem is opgelos omdat julle ’n bietjie afgekoel het nie.
As hy ’n “koue” styl het, gee hom meer tyd en ruimte. Moenie tydens ’n rusie deur al jou griewe draf nie. Hanteer een probleem op ’n slag. Hou jou stemtoon kalm en rustig. Moenie dit as ’n gebrek aan liefde en omgee sien as hy onttrek nie.
6. Vergeet om jou maat te koester
Volgens Elise hoor huweliksterapeute dikwels: “Ek’s nie die vatterige soort nie.” Of dat ’n man/vrou nie tyd maak om koestering te gee en te ontvang nie.
“Dan dink ons in die stilligheid: ‘Maak jou maar gereed vir ’n egskeiding . . . of ’n buite-egtelike verhouding’.”
Jou liggaam skei die bindingshormoon oksitosien met fisieke aanraking af. (Ook as jy die woorde, “Ek is lief vir jou”, sê en hoor.) Elke mens het glo minstens drie drukkies per dag nodig om emosioneel te oorleef. Fisieke intimiteit is ook vir jou fisieke gesondheid goed. Druk dus jou man en kinders en sê jy is lief vir hulle.
Egpare wat mekaar fisiek koester, bou ’n sterker huwelik, sê sy.
Dan is daar ook emosionele koestering, volgens Elizma. Almal het ’n behoefte om eerste in iemand se lewe te kom. As jy jou maat koester, laat dit hom waardig en emosioneel veilig voel.
Iemand se emosies of gedrag bepaal nie of jy hom moet koester of nie. Dis ’n keuse wat jy maak en ’n groot geskenk aan jou maat. Hy moet veilig genoeg by jou voel om sy hart en siel oop te maak sonder dat jy hom seermaak. Sien sy positiewe eienskappe raak en erken sy waarde en potensiaal.
Wat om te doen
- Maak hom jou prioriteit en wys sy gevoelens is vir jou belangrik, sê Elizma.
- Wees ’n ware vriendin. Sodoende kan hy sy “wapens” laat val en ook na jou behoeftes omsien.
- Wees aangenaam en moenie hom afkraak nie.
- Nes kinders, het jou maat aandag nodig. Komplimenteer hom en wys jou waardering, sê sy.