Kakao
’n Warm kakao-drankie (gemaak van 100%-kakao en sonder bygevoegde suiker) verhoog jou endorfienvlakke. Dis ’n breinboodskapper soortgelyk aan morfien en die liggaam se natuurlike pynstiller. Dit laat jou ook goed voel.
Kakao is die kossoort wat die liggaam die meeste endorfien laat afskei. Jou kortisolvlakke (’n streshormoon) verlaag dan ook. En daarmee saam jou bloeddruk en bloedsuiker. (Swaar gekruide kosse het dieselfde uitwerking.)
Bessies
GABA (gammaaminobottersuur) is ’n breinboodskapper wat stres, angs en senuweeagtigheid troef. Dit help jou ook beter slaap.
Jy kan dit nie direk van kos kry nie, maar ’n verskeidenheid kosse, soos bessies, bevat flavonoïede, wat ’n invloed het op hoe GABA in die brein werk. (Probeer ook: kersies, speserye, tamaties, sitrusvrugte.)
Pistasieneute
Dié neute is ryk aan vitamien B6. Dis nodig vir die vervaardiging van die aminosuur triptofaan, wat jou serotonienvlakke verhoog. Laasgenoemde is ’n breinboodskapper wat ’n gevoel van welbehae en speelsheid skep. (Probeer ook: hawermout, ricottakaas, suiwel.)
Avokado
Dis ryk aan die aminosuur tirosien, ’n voorloper van dopamien. Dié breinboodskapper laat jou gelukkig voel en gee jou meer energie om dinge te doen waarvan jy hou. (Probeer ook: amandels, piesangs en proteïenryke kosse soos hoender, maaskaas en eiers.)
Dadels
Dit bevat oksitosien, die sogenaamde “liefdeshormoon” wat jou help om emosionele bande te vorm. Dit verminder angs en verlaag bloeddruk. (Probeer ook: appels, beet, waatlemoen. Of gee iemand ’n drukkie!)
Bronne:
- Sunette Kotze, dieetkundige en eienaar van E-Spice Health, ’n gesondheidswinkel: 012 548 2762, www.healthline.co.za
- 'Over the Moon, a Guide to Positive Ageing' deur dr. Hannetjie van Zyl-Edeling (Porcupine Press, 2013). Kontak Hannetjie op Facebook of hvanzyl@global.co.za