Op 10 Desember 2019 het Mart-Mari Breedt aangemeld vir haar laaste weegsessie by haar verslankingsgroep.
Sowat 34 maande nadat sy daardie eerste dag die skaal op 165 kg laat trek het, het sy haar teikengewig van 85 kg bereik. Sy het 80 kg verloor. Die aand het sy teruggegaan huis toe en die dieetporsie berei wat sy die oggend reggesit het. Die volgende dag het sy opgestaan en haarself weer geweeg. En vir maande daarna nog elke liewe oggend . . .
“Ek was obsessief, ek kon myself nie van die skaal wegskeur nie, ek was so bang ek sit die gewig weer aan. Ek het aanhou dieet en selfs geweier om my eetplan se byvoegings te inkorporeer. Ek het geen idee gehad hoe ek die vrees gaan oorwin nie,” vertel sy.