Plaaslik sluit die algemeenste noodhulp-gevalle in snyplekke en skeurwonde, chemikalieë of vreemde voorwerpe in die oog, vreemde voorwerpe in vingers en voete, spierverrekkings of -verstuitings, krampe, vergiftiging en asma-aanvalle, sê Linda Buys, verpleegster en noodhulpkenner, op health24.com.
Die belangrikste items om in jou noodhulpkissie te hê, volgens Arrive Alive-paramedici, is middels om brandwonde, breuke, snye en kneusplekke mee te behandel.
Ook beenspalke, pleisters, ’n skêr, haartangetjie, mediese handskoene vir jou eie veiligheid, salf vir byt- en steekplekke en ontsmettingsmiddel hoort in jou noodhulpkissie.
Nuttige noodhulpwenke
- Maak seker jou noodhulpkissie het genoeg van alles en dat die middels nie verval het nie.
- Sluit dit en hou dit op ’n koel, droë plek buite bereik van kinders.
- Maak seker die hele gesin en kinderoppassers weet waar dit gebêre word en wat daarin is.
- Oorweeg dit om ’n basiese noodhulpgids of instruksieboekie in te sluit.
- Moenie dit tot barstens toe volmaak met onnodige items nie.
- Vervang enige item wat jy gebruik so gou moontlik.
- As jy die noodhulpkissie ’n ruk nie gebruik het nie, kies een dag van die jaar om die inhoud na te gaan.
Paramedici se drie moet-hê-items
’n Mondstuk vir mond-tot-mond-asemhaling, iets om bloeding mee te stop en frakture te spalk, en mediese handskoene.
Moet nooit aan bloed en liggaamsvloeistowwe raak sonder om sulke handskoene te dra nie.
Linda se drie geheime wapens
- Kolloïedsilwer-sproei vir alle snye, brandplekke wat genees, oogbeserings en mangelontsteking.
- Mentolsalf vir oorpyn, ’n “dooie” gevoel in die oor en om oorwas te verwyder of enige insekte in die ore te “smoor”.
- Brandwonde: Hoe gouer jy die plek met koue water “laaf”, hoe beter die uitkoms.
Probeer om die beseerde mens so goed as moontlik by te staan. Maar stel altyd jou eie veiligheid eerste.
Bron: Die Suid-Afrikaanse vereniging vir die vervaardigers van selfmedikasie (SMASA)