Drie heerlike, feestelike hoofgeregte

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Idees met varkvleis vir Kersfees
FOTO'S Verskaf
Idees met varkvleis vir Kersfees FOTO'S Verskaf
Wat is Kersfees sonder varkvleis? Dié drie resepte is so lekker, jou mond gaan water net van lees!

Sorg dat jou feestafel vanjaar kreun van die lekker met hierdie drie varkvleisresepte. Met min moeite kan jy alledaagse bestanddele spoggerig laat lyk en sorg dat elke happie jou gaste gaan terugnooi vir nog. Varkvleis is bekostigbaar en veelsydig – dit vat net ’n bietjie vrugte hier, ’n skeut alkohol daar en ’n hand vol van die regte vars kruie, dan het jy ’n feesmaal. 

 Oondgebraaide varknek met rum en pere
Oondgebraaide varknek met rum en pere FOTO Verskaf

Oondgebraaide varknek met rum en pere 

genoeg vir 8-10

Vra jou slagter om die varknek vir jou te ontbeen en netjies op te rol. Die snit is heerlik sappig en jy kan dit sonder moeite in netjiese skywe sny.

BESTANDDELE

  • 4 uie, in skywe gesny
  • 4 knoffelhuisies, grof gesny
  • 1 hand vol vars salie, gekap
  • 1 000 ml hoenderaftreksel
  • 2 x 330 ml-bottels appelwyn (cider)
  • 100 ml donker rum
  • 2,5 kg ontbeende varknek, gerol
  • 30 ml korrelmosterd
  • 25 repies strepiespek
  • 30 ml vinkelsaad
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 6 pere, gehalveer en pitte uitgeskep met ’n teelepel

METODE

Voorverhit oond tot 160 °C. Plaas die uie, knoffel, salie, aftreksel, appelwyn en rum in ’n oondroosterbak. Haal varknek uit die tou-omhulsel wat die slagter om die rol geplaas het as daar een was en smeer mosterd oor vleis. Pak spekrepe bo-op. Bind varknek weer in netjiese rol met kombuistou sodat dit ook oor die spekrepe gaan. Plaas rol bo-op uie en knoffel in oondroosterbak. Sprinkel vinkelsaad oor en geur goed met sout en peper. Bedek bak met ’n deksel of aluminiumfoelie en bak toe in warm oond vir 2 uur. Maak pan oop en voeg pere by. Oondbraai vir nog 30 minute of tot vleis gaar is. Hou die vloeistof in die pan goed dop – as dit te min raak, voeg nog aftreksel of appelwyn by. Stel die oondtemperatuur hoër, tot 180 °C, en rooster sowat 15 minute tot die vet goudbruin is. Verwyder die varknek uit die oond en laat rus 10 minute. Plaas op dienbord en sit voor met pansous en pere.

Kersfees-varkboud met spek en salie FOTO Verskaf
Kersfees-varkboud met spek en salie FOTO Verskaf

Kersfees-varkboud met spek en salie

genoeg vir 8

Jy gaan ’n ekstragroot boud wil gaarmaak, want die oorskietvleis is heerlik op ’n broodjie die volgende dag. Vra die slaghuispersoneel om die boud te ontbeen en die vel te verwyder. Neem dan die vel saam huis toe en sien die wenk onderaan vir ’n heerlike ekstra happie bederf vir jou gaste.

BESTANDDELE

  • 6 kruiegeur-varkworsies
  • 6 salieblare, fyn gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 150 ml vrugtekoekmengsel (sultanas, rosyne en sitrusskil)
  • 3 groenappels, gerasper met die skil aan
  • 100 g pistasieneute, grof gekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1,5 kg varkboud
  • 30 repies strepiespek  
  • 350 ml nartjie- of lemoensap
  • 60 ml heuning
  • 4 heel naeltjies
  • 250 ml soet mosterdsous vir voorsit

METODE

Verwyder die vleis uit die derm van die wors en meng met die salie, knoffel, vrugtekoekmengsel, appel en neute. Geur goed met sout en peper. Plaas die ontbeende varkboud op ’n werkvlak en sny horisontaal deur die vleis met kort snybewegings, maar moenie al die pad deur die vleis sny nie. Vou dan die vleis oop soos ’n skoenlapper wat sy vlerke sprei (dis waarom die Engelse praat van “butterfly the meat”). Geur met sout en peper. Skep die worsmengsel bo-op die vleis en versprei eweredig. Rol die vleis in ’n ferm wors en draai die spekrepies daarom. Vou dit toe in kleefplastiek, dan aluminiumfoelie. Bring water in ’n pot groot genoeg vir die vleis tot kookpunt en plaas die toegebinde rol in die water. Kook vir ongeveer 30 minute vir elke 500 g vleis, maar trek 30 minute af vir die tyd wat dit in die oond gaan braai. (Ons snit het vir 2 ure gekook en 30 minute gebraai.) Voorverhit die oond tot 180 °C. Meng die sitrussap, heuning en naeltjies. Haal die varkvleisrol uit die water, verwyder die foelie en kleefplastiek en sit die vleis in ’n oondvaste bak. Skep die sitrusmengsel bo-oor en plaas in die oond. Rooster tot goudbruin, maar skep elke nou en dan die pan se sappe oor die vleis. Sit warm voor saam met die pansous en groente van jou keuse. Mosterd en varkvleis is altyd ’n wenkombinasie.

WENK: Daardie vel wat die slagter verwyder het, is ’n heerlike bederf saam met die kos. Plaas dit op ’n bakplaat en besprinkel ruim met sout – moenie skaam wees nie! Rooster die vel vir ongeveer 1-2 ure teen 160 °C tot dit krakerig is. (Neem jou tyd met die roosterproses: die vet moet stadig braai om dit die regte tekstuur te gee.) Laat afkoel, breek in stukke en sit voor saam met die vleis.

Kersfees-porchetta met pietersielie-en-roosmarynso
Kersfees-porchetta met pietersielie-en-roosmarynsous FOTO Verskaf

Kersfees-porchetta met pietersielie-en-roosmarynsous

genoeg vir 9-10

Jy spreek dit uit as “porketta”, en dié klassieke Italiaanse gereg is so sappig en krakerig aan die buitekant, die familie gaan stry oor wie die laaste happie kry. Gelukkig is die resep genoeg vir ’n groot groep, en so veelsydig, dit pas by enige bygeregte of slaaie. Buon appetito!

WENK: Sê vir jou slagter jy maak ’n porchetta, dan kan hulle die vleis volgens jou behoeftes sny. Die lies moet groot genoeg wees om te rol. 

BESTANDDELE

  • 3 ontbeende varklieste (ongeveer 1,5k g elk) met die vel nog aan
  • tafelsout

SMEER

  • 5 ml vinkelsaad
  • 5 ml seesout
  • 5 ml rissievlokkies
  • 5 ml swartpeper
  • 3 knoffelhuisies
  • 45 ml vars roosmarynblare, gekap

SOUS

  • 15 ml vars roosmarynblare, gekap
  • 30 ml Italiaanse pietersielie
  • 1 klein knoffelhuisie (opsioneel)
  • knippie rissievlokkies
  • 90 ml olyfolie
  • 30 ml rooiwynasyn
  • knippie seesout
  • knippie varsgemaalde swartpeper

METODE

Droog die vleis met papierhanddoeke af en plaas met die velkant na onder op ’n skoon werkvlak. Glip stukkies tou wat lank genoeg is om die porchettas vas te bind onderdeur die lieste, elke toutjie ongeveer 3 cm uitmekaar. Berei die smeer deur die bestanddele in ’n voedselverwerker te sit of dit met ’n stamper fyn te druk – dit moet fyn genoeg wees om oor die vleis te smeer. Rol die porchetta op sodat die vetste deel van die vel bo is en die smeer binne. Bind vas met die stukkies tou. Sprinkel die tafelsout oor die bokant en kante van die porchettas (dit help om die vloeistof uit die krakerige vet te trek). Plaas in die yskas vir ’n uur. Plaas al die bestanddele vir die sous in ’n voedselverwerker en pols tot dit die tekstuur van pesto het. Plaas in die yskas om die geure te laat ontwikkel. Voorverhit die oond tot 150 °C. Vee die sout van die porchettas af en vryf weer droog met papierhanddoeke. Plaas die vleis in ’n groot oondroosterbak (of bakke) en rooster vir drie tot vier ure (die roostertyd hang af van hoe groot die vleissnitte is – werk op ’n uur per kilogram vleis). Die vel behoort reeds krakerig te wees, maar verhoog die oond se temperatuur tot 220 °C vir sowat 15-20 minute om dit ekstra krakerig te maak! Verwyder uit die oond en laat rus 10-15 minute voor jy die porchettas sny. Sit voor met die sous en jou keuse van slaaie en bygeregte.

Op soek na nuwe idees vir Kersfees?  

Gaan kyk bietjie by sapork.co.za. Jy kan hulle ook volg op Facebook by @SAPork, op Twitter by @porksouthafrica, op Instagram by @sa_pork en resepidees op hul Pinterest-rekening gaan soek by @southafricanpork

JONGSTE UITGAWE

NOVEMBER/DESEMBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees