Daar is darem niks so lekker soos ’n sappige T-been nie. SPAR Freshline se A-klas SPAR Steak Co. T-been is deels lendestuk en deels filet. Dit lyk indrukwekkend op die braaivleisvuur, en wag net tot jy die geur ervaar!
Herman Lensing het ’n paar fantastiese bykosse opgetower wat jy by dié gehalte vleis kan geniet. Die lekker van die resep is dat alles op hul eie kan staan as geregte op die braaitafel. Maak Erfenisdag se braai ekstra spesiaal met dié lekker vars idees.
T-been met gebraaide mieliesalsa, kruiesoetmosterd en knoffelbroodbakkies
Genoeg vir 6 | Resep en stilering Herman Lensing
Steak
- 3 SPAR Steak Co.-T-beensteaks
- 60 ml SPAR-olyfolie
- sap en gerasperde skil van 3 SPAR Freshline-suurlemoene
- 1 handvol SPAR Freshline Italiaanse pietersielie, baie fyn gekap
- 2 SPAR Freshline-knoffelhuisies, baie fyn gekap
Kruiesoetmosterd
- 4 eiergele
- 100 g (125 ml) SPAR-suiker
- 100 ml SPAR-witwynasyn
- 45 ml botter
- 45 ml mosterdpoeier
- 1 handvol SPAR Freshline Italiaanse pietersielie, fyn gekap
Knoffelbroodbakkies
- 6 snye SPAR witbrood of roosterbrood
- 60 ml SPAR-botter, gesmelt
- 2 SPAR Freshline-knoffelhuisies, fyn gekap
- SPAR-parmesaankaas, vir rasper oor die gereg
Mieliesalsa
- kole vir braai
- 4 SPAR Freshline-mielies, gekook tot gaar
- 1 SPAR Freshline-rooi-ui, fyn gekap
- 45 ml SPAR-witwynasyn
- sout en varsgemaalde swartpeper
Begin met die steak
Plaas T-beensteaks in ’n plat bak en sprinkel die olyfolie, suurlemoen, pietersielie en knoffel oor. Maak seker die vleis is reg rondom bedek. Laat marineer in yskas vir 2 uur.
Kruiesoetmosterd
Meng al die bestanddele vir die mosterd, behalwe die pietersielie, saam in ’n middelslagpot. Roer oor lae hitte met ’n draadklitser totdat die mengsel verdik soos witsous, sowat 2-3 minute. Verwyder van hitte en laat afkoel. Voeg pietersielie by en pols met ’n staafmenger tot ’n gladde mengsel.
Knoffelbroodbakkies
Verhit oond tot 180 °C. Sny die broodkorsies af en druk broodsnye in die 6 holtes van ’n standaard-kolwyntjiepan wat goed met kleefwerende kossproei gespuit is. Meng botter en knoffel en verf brood mildelik daarmee. Rasper kaas oor. Plaas in warm oond en bak vir 5-8 minute of tot goudbruin. Haal uit oond en hou eenkant.
Mielies
Kry kole lekker warm vir braai. Braai dan mielies vir ’n paar minute per kant tot goudbruin reg rondom. Laat afkoel en sny pitte los. Meng met res van salsabestanddele en geur goed met sout en peper.
Steak
Braai gemarineerde steaks oor hoë hitte vir 5-6 minute per kant vir ’n sappige pienk steak of langer as jy jou vleis gaarder verkies. Geur goed met sout en peper. Laat rus vleis weg van hitte vir 2 minute. Sny vleis los van die been en sit voor saam met mosterd, broodbakkies en mieliesalsa.