genoeg vir 2
- 1 medium-groot aartappel, geskil en in blokkies gesny
- 40 ml olyfolie
- 1 ui, gehalveer en in skywe gesny
- 1 knoffelhuisie, fyngekap
- 5 ml gekapte groen brandrissie (opsioneel)
- 2 takkies vars tiemie (net die blaartjies)
- 250 ml oorskiet-lamsboudstukkies
- 80 g sterk cheddarkaas, gerasper
- 1 x 400 g-blaardeeg
- 1 geklitste eier
Plaas aartappelblokkies in kastrol en bedek met water. Maak kastrol toe met deksel en bring tot kookpunt. Laat kook tot net sag en dreineer. Hou eenkant. Verhit olie in pan en voeg ui en knoffel by. Braai tot sag en deurskynend. Voeg brandrissie en tiemie by. Voeg lamstukkies by en braai mengsel sowat 1 minuut. Haal af van hitte en laat afkoel. Verhit oond tot 200 °C. Spuit 2 losboomquiche-pannetjies van 13 cm in deursnee en 4 cm diep met kleefwerende kossproei. Voeg kaas en gaar aartappelblokkies by vleis en meng goed deur. Voer pannetjies uit met deeg en skep vulsel in. Plaas deegsirkels bo-op vulsel en smeer geklitste eier bo-op. Versier pastei bo-op met afvalstukkies deeg. Plaas op bakplaat en plaas in oond. Bak 30 – 35 minute tot goudbruin. Haal uit oond en laat staan sowat 5 minute. Haal pasteie versigtig uit pannetjies en sit warm voor.