
’n Sjokoladekoek bly ’n treffer en hierdie resep gaan jou mond laat water!
• 155 g koekmeel
• 200 g strooisuiker
• 40 g kakao
• 20 ml bakpoeier
• ¾ koppie olie
• ¾ koppie kookwater
• 5 eiers
• 10 ml vanieljegeursel
• 5 ml bakpoeier
• 6 eetlepels Nutella
• 100 g 70%-sjokolade
Verhit jou oond tot 180 °C. Sif die koekmeel, strooisuiker, kakao en die 20 ml bakpoeier saam. Voeg die olie en kookwater by en meng liggies. Skei die eiers en klits die eiergele en vanieljegeursel saam. Voeg dit by die meelmengsel. Klits die eierwitte tot styf, voeg die 5 ml bakpoeier by en klits weer.Roer een derde van die geklitste eierwitte by die meelmengsel en vou die res liggies in.
Bak in twee gesmeerde 20 cm-panne of een groot ringpan. As twee panne gebruik word, bak vir 25 tot 30 minute. Vir een groot pan, bak vir ongeveer 45 minute. Keer uit die panne en laat effens afkoel. Verhit die Nutella in die mikrogolfoond tot effens loperig en versier die sjokoladekoek daarmee.
Smelt die 70%-sjokolade en smeer dit redelik dik op 'n gesmeerde stuk bakpapier. Laat dit hard word en breek in stukke. Versier die koek verder met die gebreekte sjokolade en sif dan ’n bietjie versiersuiker oor.
Ons eerste SARIE KOS-voorblad
Dié koek was die ster op ons heel eerste SARIE KOS-voorblad in 2007. En byna 12 jaar later, laat dit steeds ons monde water!