
As jy in Graad 10, 11 of 12 is en ’n matriekafskeid bygewoon het hierdie jaar, skryf in op matriekrok.sarie.com.
2016 se wenner van die Matriekafskeidrok van die Jaar-kompetisie was Stephanie de Wit van die Afrikaans Hoër Meisieskool, Pretoria. Kyk hier na die foto's en lees wat die SARIE-span, Stephanie en ander gedink het van hierdie inspirasie-rok.
Michélle van Breda, SARIE-redakteur:
"Vanjaar was daar uitsonderlik mooi rokke, maar Stephanie s’n het uitgestaan oor die klassieke swart-en-wit strepe en daardie ongelooflike mooi 50’s-soort strikke aan die agterkant. Ek dink sy het spesiaal en gemaklik in haar rok gevoel – en as jy so voel, wys dit! Van Stephanie het dit ’n wenner gemaak."
Stephanie sê:
"Die inspirasie vir die ontwerp was ’n foto van ’n Valentino-rok. Ek was mal oor die idee van fluweel en wou nog altyd ’n fluweelrok met swart-en- wit strepe hê. Omdat die rok die fokus moes wees, het ek my hare, grimering en bykomstighede eenvoudig gehou. Dié skepping van Anel Botha gaan ek beslis weer dra!"
Anel Botha, ontwerper van hierdie rok:
"Die trefkrag van hierdie moderne rok met sy vintage twist is sy eenvoud. Maar juis oor hierdie eenvoud moes elke deel perfek wees. Die grootste fout wat meisies maak, is om te veel idees in een rok saam te gooi. In hierdie geval was minder beslis meer."
Hanri Human, fotograaf:
"Stephanie het soveel dinge reg gedoen! Sy het ’n klassieke en eenvoudige snit gekies, maar dit jonk gehou met die fluweelbostuk en strepe, en sy het die spyker op die kop geslaan met haar minimale grimering en poniestert. Sy het nie soos ’n bruid gelyk nie, maar soos ’n skoolmeisie met die wêreld aan haar voete! Haar hele voorkoms het by haar ouderdom gepas."
Amaria Carstens, SARIE-moderedakteur:
"Die rok is in die kol met die gebruik van fluweel – een van die grootste tendense tans – vir die bostuk. Ek is mal oor die kontras van die sensuele bostuk en die rompgedeelte met sterk gestreepte duchesse-satyn. Stephanie se juwele is sterk en modern en klomplementeer haar rok ten volle. Ek hou veral daarvan dat sy gespeel het met baie en verskillende ringe."
Charis van den Heever, SARIE adjunk- en skoonheidsredakteur:
"Stephanie se eenvoudige grimering rond haar voorkoms mooi af. Omdat sy gekies het om haar oë te beklemtoon met ’n rokerige voorkoms, was dit slim om haar lippe neutraal te hou. Die tikkie blosser op haar wange laat haar vel jonk en vars lyk. En wat is nou mooier as donkerrooi naels by ’n swart-en-wit uitrusting?"
Fanie Cronjé, styl- en sosiale redakteur:
"Die perfekte balans van stylvol en klassiek – dit werk vir ’n matriekafskeidrok. Haar rok se vol, groot silhoeët is treffend en sorg vir genoeg opwinding. En haar hare agteroor in ’n poniestert maak haar jong gesig mooi oop."
SKRYF IN!
As jy in Graad 10, 11 of 12 is en ’n matriekafskeid bygewoon het hierdie jaar, skryf in op matriekrok.sarie.com.