
Cartier het verlede maand ’n musiekvideo, getiteld LOVE IS ALL, bekend gestel en dis ’n pragtige, prettige paar minute waarin die visie van die huis van Cartier verteenwoordig word: ’n Viering van universele en tydlose liefde en samesyn met familie, deurspek met die gees van vreugde en mededeelsaamheid wat ’n mens oor die feestyd wil sien.
Die vriende van Cartier wat daarin gesien kan word, is Ella Balinska, Mariacarla Boscono, Monica Bellucci, Khatia Buniatishvili, Lily Collins, Golshifteh Farahani, Mélanie Laurent, Troye Sivan, Willow Smith, Annabelle Wallis, Jackson Wang en Maisie Williams. Dié 12 persoonlikhede bou op mekaar se kreatiwiteit en energie in die verfilming, en wys hoe belangrik kulturele en kunstige diversiteit is vir die lewenskragtigheid van ’n modehuis soos Cartier.
“Dis deel van die Cartier-filosofie om te glo dat ons sterker en meer outentiek is as ons saamwerk, en dis waarom ons dié inspirerende gemeenskap van kunstenaars byeengebring het wat die lewe feestelik omarm. Saam lyk dit of hulle gravitasie vryspring met Cartier se rooi boksie, wat hulle propvol vreugde gestop het,” vertel Arnaud Carrez, senior visepresident en hoofbemarkingsbeampte van Cartier.
Die regisseur is ’n jong Brit, Charlotte Wales, bekend vir haar vars en lighartige benadering. Die video reflekteer wat Cartier as ’n belangrike boodskap beskou: Dat elke mens se uniekheid verryk word deur ander s’n, en dat sulke verbintenisse ons talente versterk. Dis ’n ongereserveerde verklaring van waardering vir die kunste en kultuur van ’n huis wat weet ’n mens moet buite die boks dink, grense verskuif en oorkom, sowel as enigiets anders in ons lewe wat ons daarvan weerhou om ons harte vry te maak.
LOVE IS ALL se liedjiekeuse is ook belangrik vir die onderliggende boodskap wat Cartier wil oordra – ’n popmelodie wat in die 70’s deur Richard Glover en Ronnie James Dio gekomponeer is: “Everybody’s Got to Live Together”. Die video help om die universele boodskap agter die warm en vreugdevolle lirieke te versprei terwyl ons in die feestyd saam die lewe vier.
Jy kan die musiekfliek hier sien: