
By vanjaar se US Woordfees gaan Afrikaans en Xhosa soos 'n pou hul stertvere flankeer. Met 'n molo en 'n goeiemôre gaan feesgangers nie net dié twee tale saam in produksies soos Gif/Poison/Ityhefu sien nie, hulle gaan ook van 'n nuwe projek hoor: die #Amagama Projek.
Feesgangers gaan oor die 10 dae kans kry om 100 Xhosa woorde te leer - dis 10 per dag!
Volgens Jana Nel, projekbestuurder en deeltydse dosent aan die opvoedkundedepartement, is dit 'n opwindende projek. "Dit streef daarna om taalgrense sowel as kultuurgrense oor te steek deur wedersydse begrip en respek te toon. Wanneer mense na mekaar kan uitreik deur mekaar in hul moedertaal te groet, te vra hoe dit gaan en totsiens te sê, maak dit reeds 'n baie groot verskil."
Daar gaan ses #Amagama-stalletjies in die hart van die dorp wees. Twaalf onderwysstudente (Xhosa- sowel as Afrikaanssprekend met Xhosa as hoofvak) gaan feesgangers help om die woorde te leer en reg uit te spreek.
"Hulle sal ook ondersteuning bied met die uitspraak van die drie bekende klikklanke in die Xhosa-taal."
Die studente, wat blou hemde sal dra, gaan elke dag op die volgende plekke wees:
- Erfurthuis, Ryneveldstraat 37
- By die pendeldiens in Ryneveldstraat
- H.B. Thom-teater
- Konservatorium
- Bloekomhoek
- Plataan-kafee (agter die Sasol-kunsmuseum)
Wil jy 'n voorsprong hê?
Leer solank die volgende 10 isiXhosa-woorde:
1. Molo/Molweni - groetvorm (enkelvoud en meervoud)
2. Unjani?/Ninjani? - Hoe gaan dit? (enkelvoud en meervoud)
3. Ndiyaphila - Dit gaan goed met my
4. Manene namanenekazi - dames en here
5. Mnandi - lekker
6. Iphi indlu yangasese? - Waar is die badkamer?
7. Umnyhadala - fees
8. Iplasi lewayini - wynplaas
9. Amanzi - water
10. Imini emnandi - lekker dag