Die artikel het in SARIE se Mei-2017 verskyn.
Op 1 Junie was dit presies 15 jaar gelede dat Hansie Cronjé, eens geliefde en toe gevalle krieketheld, in ’n vliegongeluk oorlede is. Sy vrou, Bertha, is intussen weer getroud, maar hy bly voortleef in haar en haar gesin se onthou ...
Daar is nie woorde vir wat gebeur het nie. Niks wat die ongeloof kan beskryf nie. Die fisieke pyn wat haar dubbel laat vou het nie. Die dag vyftien jaar gelede toe die lewe wat sy geken en gekoester het, vir Bertha du Plessis (voorheen Cronjé) ineengetuimel het. Hansie Cronjé, eers Suid-Afrika se liefling en toe uitgeworpene, het op Saterdag 1 Junie 2002 in ’n vliegongeluk in die Outeniqua-berge gesterf. Naby hul huis. En drie maande voor haar dertigste verjaardag. Hulle is op 8 April 1995 getroud.