
Dit klink soos iets uit ’n vervolgverhaal. Maar vir die afgelope 10 jaar reis Gilda Swanepoel en haar hond, Pixel, met ’n Hilux-bakkie deur Suider-Afrika.
Kleine Pixel het in sy hondelewe vier lande in Afrika gesien. En vanjaar het hulle 11 714 km in 111 dae afgelê.
"As hy net die karsleutels hoor klingel, waai sy stert en is hy gereed vir ’n avontuur. Hy het al Lesotho, Namibië, Botswana en Zimbabwe gesien," het Gilda aan SARIE.com vertel.
Op die oomblik is Gilda, ’n entrepreneur, tuis in Johannesburg, besig om borge te soek vir haar volgende avontuur. Sy wil graag haar blog op die been kry en reisstories skryf - stories wat sy met elke avontuur reeds neergepen het. Dit, hoop sy, sal sorg vir verdere avonture op die pad.
"Ek weet Pixel is nou op geleende tyd. Maar ek sal vir oulaas saam met hom wéér deur Namibië toer."
Gilda het dit nog altyd geniet om alleen te reis.
"Dis die beste manier om die wêreld te verken. Ek vind dit meer vreedsaam, en ervaar ook dat jy dan makliker vriende maak met die locals. Maar jy moet gewillig en bereid wees om die avontuur aan te pak."
En dis glad nie moeilik om vrou-alleen te reis nie.
"Dis baie maklik en bevredigend. Ek het ’n betroubare kar, ek weet hoe om ’n wiel om te ruil. Maar die belangrikste is daar's altyd vriendelike mense wat jou sal help!"
En haar advies vir vroue wat só ’n avontuur wil aanpak?
"Doen dit net. Moenie bang wees nie. En as jy slim reis, sal dit bekostigbaar wees!"
’n Ander Suid-Afrikaanse vrou, Joanne Lefson, het in 2009 saam met haar hond, Oscar, oor die hele wêreld gereis. Oscar het in 2013 gesterf toe ’n motor hom getref het.
Volg Gilda se reise op Facebook.