Trolle is deesdae nie net tuis tussen die blaaie van ’n broers Grimm-sprokiesverhaal nie. Dié nare karakters leef voort, om elke hoek en draai van die kuberruim, waar hulle jou enige oomblik met hul giftige kommentaar kan bykom. En in stede van hul sprokie-gedaante van vlymskerp tande, vuil vingernaels en harige voete, is vandag se trolle vermom as die vriendelike buurvrou, jou huisdokter of selfs nabye familielid.
Hokaai, dink jy, dis bietjie vergesog! Maar volgens die aanlyn nuusblad Huffington Post kan ’n internet-trol enigiemand wees wat moedswillig onmin in die kuberruim saai, wat met opset boodskappe op sosiale media plaas wat mense uittart, beledig, kwets of verkleineer. En dis veral onder die Facebook-brug waar dié trolle boer.
Veral glanspersoonlikhede loop deur. Dink maar aan die Afrikaanse sangeres Karlien van Jaarsveld en die hertogin van Sussex, Meghan Markle. “Kan sy ophou om haar maag so vas te hou?!”, “Genade, sy is ’n aandagvraat”, “Sy hoort nie in die koninklike familie nie”, “Me-Again! Alles gaan net oor haar!”, “Sy trek onnet aan”, “Tipies Amerikaner” ... dis maar ’n paar van die nare aanmerkings wat Facebook-gebruikers onder stories wat van haar en prins Harry verskyn.