Louis Pasteur draai seker in sy graf om. Dié Fransman was ’n baanbreker in die gebruik van entstowwe teen dodelike aansteeklike siektes. En van vanjaar af word ouers in Frankryk wetlik verplig om hul kinders te laat inent. Dis “onaanvaarbaar” dat kinders “steeds van masels doodgaan” in die geboorteland van entstowwe se vroegste pioniers, het eerste minister Édouard Philippe gesê.
’n Nuwe Franse revolusie broei, aange-blaas deur die sogenaamde “anti-vaxxers”. Nie net in Frankryk nie, maar oral in die ontwikkelde wêreld daal die tempo van inentings weens die verdagmakery van vaksiene. In Italië word kinders wat nie ingeënt is nie, nou in skole verbied nadat wetmakers ingegryp het.
Ook oorkant die water, in Amerika, is sommige ouers steeks. Sy gaan eerder tronk toe, het ’n Amerikaanse ma onlangs gesê. En moes toe ’n week agter die tralies sit. Sy het ’n regter se bevel verontagsaam om haar kind te laat inent. Haar gewese man het toesig oor die kind gekry – en dit teen haar wense laat doen. Hare was godsdienstige besware.