Selfone is lankal nie meer nét ’n hulpmiddel vir bel en boodskappe stuur nie. Jy kan foto’s neem, video’s redigeer, boeke lees, jou geldsake bestuur, kos bestel, e-posse stuur en selfs jou gesondheid monitor. Daar lê ’n wêreld van inligting tot jou beskikking op jou selfoon. Maar, waarsku kenners, in die hande van ’n kind kan hierdie toestelle verskeie gevare inhou. In ’n japtrap het hy toegang tot pornografie en kletskamers waar ongure karakters in donker hoeke wag.
In 2017 het ’n Amerikaanse pa, Brad Summers, skermgrepe van ’n aanlyn gesprek tussen sy sewejarige dogter en ’n negejarige meisie gedeel. Klink heel onskuldig, maar gou het die “meisie” vir kaalfoto’s gevra, berig Independent. Die gesprek het plaasgevind op musical.ly, ’n musiek-app waar jy video’s van 15 sekondes kan deel. Brad, ’n polisieman, het betyds ingetree en die oortreder se profiel is verwyder.
Volgens Daleen Luyt, forensiese maatskaplike werker van Pretoria, is dit kommerwekkend tot hoeveel forensiese ondersoeke die wanbestuur van selfone onder kinders deesdae lei. “Veral van ’n seksuele aard. Jy vertrou jou kind, maar ’n pornografiese video of foto kan selfs op ’n WhatsApp-groepie versprei word. Jou onskuldige kind kan maklik aan iets blootgestel word.”