Ek en my man, SP, was albei troufotograwe in Pretoria toe hy vier jaar gelede die geleentheid kry om by ’n myn naby Swakopmund te werk. Sy ouers woon hier en die familie hou elke Desember hier vakansie, so dit was darem nie te vreemd nie. Swakop is ’n rustige (en mistige) kusdorpie en baie veilig. Jy kan met jou fiets winkel toe ry en selfs saans rondstap en nie bang wees nie. Die natuurskoon en vriendelike mense het my verstom, so ons het nie twee keer gedink om te trek nie.
SP het ’n graad in meganiese ingenieurswese en ek ’n honneurs in grafi ese ontwerp. In Suid-Afrika het ons as troufotograwe ons eie onderneming, Nifty Studio, begin. Toe SP by die myn begin het, het ek voortgegaan om die besigheid hier uit te bou en ons werk nog so nou en dan in Suid-Afrika (’n lekker verskoning om te gaan kuier). Ná baie vlugte en duisende kilometers op die pad het SP vroeër vanjaar by die myn bedank en ons albei werk nou weer voltyds in die kreatiewe bedryf. Covid-19 het ons erg geraak en sal nog die res van die jaar. Namibiërs was ook streng ingeperk en al ons troues is uit- of afgestel. Gelukkig is ons albei ’n “jack-of-all-trades” en het ander projekte wat ons aan die gang hou. SP werk as vryskut-illustreerder en doen opdragwerk terwyl ek ons besigheid bestuur. Met die ekstra tyd kon ons Nifty herevalueer en in twee takke verdeel: Nifty Shoots vir foto’s en Nifty Studio vir grafiese en bemarkingsdienste.