Toyota sit tans voet in die hoek om sy modelreeks te verfris en uit te brei. Die afgelope paar maande het ’n rits nuwe modelle hul verskynings in Toyota se vertoonlokale gemaak. Boonop is dié nuwelinge so geposisioneer dat hulle aantreklik is vir ’n verskeidenheid van moontlike kopers in verskillende segmente. Vier van dié Toyotas, wat ek onlangs onder hande gehad het, is die Agya, Starlet, Corolla en die Fortuner.
Die Agya is ’n nuwe intreevlakvegter vir Toyota en vervang die Aygo en moet die stryd aansê teen gedugte mededingers soos die Suzuki Ignis, Hyundai Atos, Kia Picanto en Volkswagen Up. Dit beteken die Agya se werk is vir hom uitgeknip! Maar Toyota is altyd gerat vir ‘n uitdaging… Het die Agya egter die regte ammunisie om ’n goeie stryd te voer? Standaard-eienskappe sluit in kragstuur, luverkoeling, sluitsluitweerremme, twee voorste lugsakke en allooiwiele. Ongelukkig is ‘n raakskerm-multimediastelsel Apple CarPlay en Android Auto funksionaliteit opsioneel, maar dit bied darem ’n standaard stelsel wat ook Bluetooth het vir handvrye selfoonoproepe. Onder die enjinkap is ’n wakker driesilinder-petrolenjin met ’n gemiddelde brandstofverbruik van 4,8 liter/100 km wat beteken jy behoort sowat 650 km op ’n 33 liter-tenk te ry. Die Agya is ’n buksie wat uitstaan danksy ’n sportiewe voorkoms, maar dit lyk dalk bietjie te wild vir party mense. Hoewel die Agya ’n aanloklike pakket is, is sy prys dalk bietjie te hoog vir wat jy kry, want van sy mededingers bied beter waarde vir geld.