Jy het vandag – niksvermoedend – by minstens een psigopaat verbygeloop. In ’n nuwe boek, Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste, beskryf die oud-SARIE-joernalis André le Roux hoe jy hierdie ongure mense kan herken – en vermy.
Dis wat psigopate so gevaarlik maak ... Hulle maak ’n baie goeie eerste indruk. Jy sal dink: Wat ’n aangename, vriendelike en sjarmante mens wat so lekker en interessant kan gesels. Intelligent ook.
En hy laat jou lag. Die trane sal wel later kom, maar dan is dit gewoonlik te laat. Terwyl jy swig voor die psigopaat se sjarme, is daar tog ’n manier om hom uit te ken: Kyk hoe hy ander mense hanteer – van die winkelassistent tot die kelnerin, mense wat hy nie wil manipuleer om iets uit hulle te kry nie.