In 2012 het ’n swanger dr. Annie Bekker van die Universiteit Stellenbosch se departement meganiese en megatroniese ingenieurswese met haar tassie instrumente op ’n vliegtuig geklim om vir vyf dae die vibrasie op die splinternuwe SA Agulhas II in die Baltiese See te meet.
Vroeër vanjaar was Annie, nou professor en direkteur van die klank-en-vibrasie-navorsingsgroep, weer aan boord van dié ysbreker – hierdie keer as lid van die Endurance22-ekspedisie.
Dit was wêreldnuus toe die span op 5 Maart die skeepswrak van die ontdekkingsreisiger sir Ernest Shackleton ontdek het wat in 1915 in die Weddell-see naby Antarktika gesink het.