Digby die Noordpoolsirkel, al vanuit die vliegtuig, sien jy die buitewêreldse landskappe. Die ligbruin rotsformasies met titsels pienk en oranje. Die talle kraters en skeure in die aardkors.
Soos die vliegtuig al hoe laer vlieg, merk jy nou ook die Noord-Atlantiese Oseaan met sy donkerblou water en deurskynende wit ysberge. Die blinkende mere en riviere, die reusagtige gletsers, yslae en watervalle. Plek-plek is dit verrassend groen. Jy is onmiddellik verlief op Ysland.