Deel

"Ek is mal oor my vriendin se man!"

akkreditasie
FOTO Unsplash
FOTO Unsplash

Ek is baie gelukkig getroud, maar voel aangetrokke tot een van my beste vriendinne se man. Elke keer as ons kuier, kry ek vlinders op my maag. Wat méér is, die aantrekkingskrag kom van albei kante. Ek besef dit kan baie pyn en ongemaklikheid veroorsaak. Wat kan ek doen?

FOTO Unsplash

Wirika Field kliniese sielkundige, Pretoria, antwoord:

Dis inderdaad ’n dilemma! Aan die een kant voel jy dat jy nie die wedersydse aantrekkingskrag tussen jou en jou beste vriendin se man kan weerstaan nie. Aan die ander kant wéét jy as jy toegee en emosioneel en/of seksueel by hom betrokke raak, kan almal dalk seerkry. Dit is verstaanbaar dat jou hart en kop met mekaar worstel.

Wat dinge nog moeiliker maak, is dat julle as egpare saamkuier. Jy kan jouself nie maklik uit die situasie onttrek nie. Terwyl dit bestaan, is jou huwelik en jou verhouding met jou beste vriendin waarskynlik op die spel. Aangesien jy met jouself hieroor redeneer, lyk dit asof jy die vermoë het om ’n besluit te kan neem – oor hoe om jou dilemma te benader en te bestuur.

Indien jy kies om die aantrekkingskrag tussen julle aan te blaas en voort te sit gaan almal mettertyd lont ruik. Dit sal ’n groot impak op jou verhouding met jou man en vriendin hê. Jou keuse het gevolge–en jy weet dit reeds. Kies jy egter jou verhouding met jou man en vriendin, moet jy oor jou prioriteite nadink en daarvolgens optree. Jy sal jou fokus moet verskuif: Vanaf die aantrekkingskrag tussen jou en die ander man, na wat jou huwelik en jou vriendin vir jou beteken. Dié verskuiwing kan tot groter perspektief lei oor wat jy bereid is om te verloor, of nie.

Jy is nie bereid om jou huwelik of jou vriendskap met jou vriendin prys te gee nie? Dan is dit raadsaam om die energie wat jy in die aantrekkingskrag vir die ander man belê na jou verhouding met jóú man te verplaas. Flirteer meer met hom en skep emosionele nabyheid, warmte en opwinding. Maak seker julle kry méér by mekaar van dit wat julle nodig het. En doen dit steeds wanneer julle saam met jou vriendin en haar man kuier. Dit sal ’n duidelike boodskap aan almal uitstuur oor jou prioriteite. Die keuse is joune.

FOTO Unsplash

Dr.Madeleine Nolte hoof: studente-ondersteuning, Universiteit van Pretoria, antwoord:

Verbode vrugte is heerlik! Maar die gevolge daarvan is aaklig en raak die lewe van baie mense onherroeplik. Navorsing wys ’n flirtasie soos dié is dikwels binne maande verby.

Jy sê jy is “baie gelukkig getroud”.In wese is jou huwelik dus kerngesond. Vermoedelik gee julle nie genoeg aandag daaraan nie. Dalk aanvaar julle jul “gelukkige huwelik” as vanselfsprekend, wat tot verveling en stagnasie gelei het. Jul huwelik moet dus nuwe “kompos” kry. Fokus veral op die volgende dinge.

  • Praat eerlik en openlik met mekaar. Dit sal help om jul gevoelens, emosies en behoeftes te verwoord. Dit is ook nodig dat jy en die ander man ’n nugter, eerlike gesprek sal hê.
  • Jou behoeftes en verwagtinge van die huwelik is dikwels gekoppel aan die lewensfase waarin jy is. Skep “ons tyd”waartydens julle kan bespreek wát dit is, emosioneel en fisiek. En om te bepaal wat die stand van sake in jul huwelik werklik is. So hou jy as’t ware jou vinger op die pols van jou huwelik. Praat ook oor jul behoeftes en verwagtinge van alledaagse dinge en uitdagings. Soos geld, kinders, beroepseise, familie, vriende, ontspanning en geestelike groei.
  • Derdens is dit belangrik dat elke paar, ongeag hoe lank hulle getroud is,sal werk om die vonk en romantiek in hul huwelik lewend te hou. Dit beteken jy gee onselfsugtig van jouself en jou tyd aan jou huweliksmaat, sonder om iets terug te verwag. Dit sneeubal en hou jou huwelik interessant. Dit hoef nie altyd geld te kos nie, maar kan klein, eenvoudige dingetjies wees. Maak ’n spesiale gereg vir jou maat, tap sy/haar badwater in, maak self ’n geskenkie, of skryf ’n gedig/boodskap vir hom/haar. As jy nie daadwerklik aan jou huwelik werk nie, raak die versoeking groot om opwinding elders te soek. Loop weg van dié potensiële doodloopstraat – en geniet die soeke na ’n vervulde huwelik. Die vrugte is soet.
FOTO Unsplash

JONGSTE UITGAWE

Maart/April-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees