Terwyl die bruid en haar trotse pa ingehaak kansel toe stap, sien sy haarself vry in ’n woud hardloop. Daar rits sy haar trourok oop, ontbloot ’n sexy swart rokkie en hardloop tot bo-op ’n krans. ’n Helikopter swiep haar op en glimlaggend vlieg sy oor die see, dan oor Parys. Stralend na vryheid.
“Jammer, Pa,” sê sy.
Dis nie net in glansryke advertensies en in flieks soos Runaway Bride (waarin Julia Roberts se karakter drie maal die hasepad kies) dat bruide (en bruidegomme) voor die kansel omdraai nie. In die werklike lewe is dit meer algemeen as wat ons besef. Dalk net nie so dramaties nie. Sowat 10 tot 15% van troues waarvan die reëlings al ver gevorder is, word afgestel, sê ’n paar huweliksberaders en predikante.