Die Weskus-duinegodin, noem haar vriende haar, want sy gló in en skep “magical moments”.
Dít, vinnige besluite, harde werk en ’n siel wat sing as sy mense gelukkig kan maak, is wat Isabella (Bella vir vriende) help om naatloos van een projek na die volgende te beweeg.
Sy is bekend daarvoor dat sy alles goed doen. Noem maar op: modestilering vir televisieprogramme soos Pasella of tydskrifte soos die destydse Femina en Elle; “plaasmarkte in die stad” wat tot Market at the Palms in Woodstock gelei het; haar gewilde Langtafels op die Duin; plus lekkerlees-blogs, kos- en fotografieklasse.