
Dit lyk asof vlegsels dalk dié vakansie weer ’n oomblik in die kollig gaan hê. As jy graag jou hare vleg, gaan jy mal wees oor hoe die modelle se hare gestileer is by ’n vertoning van die ikoniese modehuis Chanel wat verlede week gehou is.
Vir die vertoning het die beroemde Amerikaanse haarstileerder Sam McKnight modelle se hare in verskillende interessante style gevleg en met linte, hoedens en swierige haarknippe getooi. Hy het selfs visgraat-vlegsels ingespan.
Van voor af lyk die vlegsel-style sag en romanties en van agter netjies en elegant. Ons dink dis die perfekte haarstyl vir jou Kerspartytjie of vir ’n vakansie-aand uit.
Dié mooi vlegsel-style is makliker om te skep as wat dit lyk! Hiér verduidelik ons dit stap vir stap vir jou.
Visgraat-vlegsel
#1 Verdeel al jou hare in twee ewe dik seksies sodat jy een aan die regterkant van jou kop het en nog een aan die linkerkant.
#2 Neem nou ’n fyn stringetjie hare aan die buitenste kant van die regterkantse seksie, vou dit oor hierdie seksie hare en dan onderin die linkerkantse seksie. Nou is dié stringetjie hare deel van die linkerkantse seksie.
#3 Herhaal stap 2 met die linkerkantse seksie hare.
#4 Herhaal die proses soos in stap 2 en 3 uiteengesit totdat al jou hare in die visgraat gevleg is. Onthou om die stringe styf te trek vir meer beheer oor die voorkoms.
Wenk:
Spuit vooraf ’n stileringsproei in jou hare. Dit sal dit ’n bietjie makliker maak om die haarseksies te hanteer.
Tou-vlegsel
#1 Verdeel jou hare in drie dele, soos wanneer jy ’n gewone vlegsel sou vleg.
#2 Draai die drie dele kloksgewys om jou vingers.
#3 Vat dan die drie gedraaide dele saam en draai dit in die teenoorgestelde rigting, dus antikloksgewys, totdat dit ’n tou-vlegsel vorm.
#4 Trek die vlegsel ’n bietjie los vir ekstra tekstuur.