Elsabé Daneel: ‘Wees jouself, dít is die kuns’

akkreditasie
Elsabé Daneel by haar dogter, Roeline FOTO Instagram / Elsabé Daneel
Elsabé Daneel by haar dogter, Roeline FOTO Instagram / Elsabé Daneel
Sy gesels oor nuwe projekte, die Hessequa Harmonie kunstefees, skoonheid, welwees en hoe om jou ouderdom te omarm.

Om met aktrise Elsabé Daneel te gesels, is natuurlik ’n groot voorreg. Met merkwaardige TV-reekse, films en teaterproduksies op haar kerfstok en talle nuwe projekte in die pyplyn, is sy Suid-Afrika se Meryl Streep in eie reg. 

Jy besef gou dat sy baie besig is, só besig dat sy al goed die kuns van kophou en beplanning bemeester het. Haar entoesiasme en adrenalien is opmerklik, sy is bang vir niks en sien kans vir enige geleentheid wat na haar kant kom.

FOTO Instagram / Elsabé Daneel

Na die eerste inperking was daar vir Elsabé nog nie weer tyd vir stilsit nie. Eers was dit die kykNET-reeks Afgrond, toe die SABC-reeks Die Sentrum, daarna die kykNET-sepie Suidooster, en so paar ander projekte waaroor Elsabé nie nou al veel mag uitbrei nie. “Dis alles nog under wraps, soos hulle sê,” vertel Elsabé.

Die karakters wat sy speel is divers en verskil elkeen hemelsbreed van mekaar. In Afgrond speel Elsabé ’n narsistiese ma, in Die Sentrum ’n ontkleedanser en in Suidooster het sy onlangs die rol van een van haar heel gunsteling tipe karakters vertolk: “Sy is geweldig sterk. Sy praat die waarheid, sy het insig. Maar mense koop dit nie altyd nie.”

Net soos in die regte lewe, is enige karakter kompleks en strek dit veel verder as die teks. Met al hierdie stories moet jy dieper delf. “Dit help nie net jy sê dis ’n slegte karakter nie, maar wat het met daai karakter gebeur? Hoekom is daai karakter sogenaamd sleg? Gewoonlik is dit geweldige trauma wat mense al ervaar het.”

Menslike gedrag fassineer haar. Hoe mense groei, teleurstellings hanteer en in verskillende rigtings beweeg. “Dis ’n geweldige slim sielkundige proses. Jy moet baie wakker wees om akteur te wees. Jy kan nie net ’n paar woorde leer en dink nou is ek Laurence Olivier nie. Jy moet weet hoe ’n mens se kop werk, want dan kan jy verskillende karakters vertolk. Dis ’n wonderlike reis, want jy beweeg weg van jouself af. ’n Akteur het ’n geweldige fyn oog vir waarneming, vir persoonlikhede, vir cause en result.”

FOTO Instagram / Elsabé Daneel

Elke liewe rol bly ’n absolute voorreg, sê sy. “Jy moet dit jou eie maak. Jy moet teruggaan na jou kassie van herinneringe en mensekennis en jy moet uithaal wat nou pas by die karakter wat jy speel. Ek wou altyd ’n sielkundige geword het, my ma het gesê ek gaan te veel huil, dat hulle [die pasiënte] my hart gaan breek. Dit is hoe ek by movies en dramas beland het en op die verhoog speel. Dit is net iets wat my só lig en vir my so baie beteken.”

As kommunikasiekundige bied Elsabé gereeld werkswinkels aan. “Dit gaan basies oor aanbiedingsvaardighede. Hoe bied jy jouself aan dat jy jou inhoud kan verkoop? Hoe kry jy die luisteraar om dit wat jy nodig het om vir hulle te sê, te internaliseer?” Die werkswinkels het begin by die Departement van Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch - ’n goeie platform vir nagraadse studente om hulself beter te kan toerus. 

FOTO Instagram / Elsabé Daneel

Die Hessequa Harmonie kunstefees is natuurlik óók op Elsabé se kalender gemerk. Dit vind vanaf 21 tot 25 September in Heidelberg, Wes-Kaap plaas. “Met musiek, gedigte en positiewe gedagtes kry jy jou krag, jy geniet dit, jy word wyser, jy word ligter gemaak.”

Dis die derde keer wat Elsabé by die fees betrokke is, dié keer as gespreksleier met bekende skrywers soos Irma Joubert en Dana Snyman. 

“Ek wil bietjie in Irma se kop delf. Waar kry sy haar eerste prikkels vandaan om ’n boek te skryf? Wat maak haar opgewonde oor ’n tema? Waar kom haar karakters vandaan, is dit gegrond op mense wat ons ken?” 

Sy bewonder nog altyd vir Dana Snyman, omdat hy so aards is. Hy voel sáám met sy karakters en het ’n hart vir hulle, voeg Elsabé by. 

Elsabé sien ook uit na die gesprek oor Dalene Matthee. Die uitgewer van haar laaste boek sowel as ’n joernalis en kenner oor haar lewe en werk gaan saam gesels. Die gesprek sal nie net op haar boeke fokus nie, maar ook op Dalene Matthee self, haar drie dogters en haar man. “Ek wil die storie agter haar stories vind.”

FOTO Instagram / Elsabé Daneel

Elsabe oor welwees en skoonheid

Haar skoonheid- en welwees mantra ...

Bly uit die son uit. Ons Suid-Afrikaanse son is baie skerp en veral soos jy ouer word, raak jou vel dunner. Hoe meer jy dan in die son gaan rondloop, hoe meer sonskade gaan jy kry. Vlekkies op jou vel, rooi aartjies op jou neus. Ek wend baie goeie sonskerm al vir baie jare aan my gesig en bo-op my hande. Ek het ook baie lief geraak om ’n hoed te dra. Ek sal nooit sonder ’n hoed buite gaan nie.

FOTO Instagram / Elsabé Daneel

Jou gunsteling velsorgprodukte?

Die SBR-velsorgreeks. Ek gebruik die SBR Repair (R165) soggens en die SBR Lipocream (R185) saans. Die vel moenie gedehidreerd raak nie, want dit is waar jou plooie makliker gaan wys. Jy moet jou vel vogtig hou en ’n goeie velsorgroetine beoefen.

Ek hou ook van Elizabeth Arden Eight Hour Cream Skin Protectant (R355), ons ouers het dit gedra. Dis besonders voedend en help ook om droë lippe weer lekker sag te kry.

Moet-hê lipstiffie?

Ek glo in lipstiffie. Ek glo sterk in lipstiffie. Ons hou ander se monde dop wanneer hulle praat. Ons oë is groot skakels tussen mekaar, maar so óók ons lippe. Jy hoef nie helder rooi lipstiffie te dra nie, maar dra veral lipstiffie as jy vaal lippe het en as jy al ouer is. Soos wat ons ouer raak lyk ons lippe minder gedefinieerd en dan is lipstiffie regtig die moeite werd. Ek hou van ’n lipstiffie skakering wat so effens pienk en bruin is. 

FOTO Instagram / Elsabé Daneel

Rimmel Provocalips 16HR Liquid Lipstick in Kiss Off (R159) By Clicks.

Geniet jy jou langer haarlengte?

As gevolg van lockdown het ek my hare net eenvoudig gelos. Ek wil graag langer hare nou dra. My rolle is baie uitmekaar uit, ek voel as ek langer hare het, kan ek dit makliker by my rolle aanpas. Ek glo lang hare is baie vleiend vir ’n vrou. Ek voel ’n duisend maal vrouliker met my lang hare. Dis vir my verbasend hoe lekker dit is. Ek voel mooier en meer vroulik.

FOTO Instagram / Elsabé Daneel

Wat is jou raad aan vroue wat in dieselfde lewensfase as jy is en dalk sukkel om die nuwe fase te omarm?

Jy moet pelle met realiteit maak. Jy gaan nie weer jonger word nie. Dis ’n natuurlike proses. Dis die lewe, dit is hoe die lewe gemaak is. Dis in ’n siklus. Omarm net die lewe, moenie dink aan fases nie. Koester wat die lewe jou bied, een aspek daarvan is om ouer te word. Dit is om insig te hê en om ontslae te raak van dit wat nie meer vir jou lekker is nie. Ek het al van so baie dinge afstand gedoen, ek is nou al so lig soos ’n veertjie. Ek gaan opstyg maan toe! Ek moet gefokus bly op dit wat vir my lekker is, wat my voed en wat my nogsteeds heel laat voel.

Wees jouself. Dít is die kuns. Hoe ouer jy word, hoe meer kan jy bekostig om jouself te wees. Omarm jou ouderdom, moenie daarvoor skrik nie. As jy dit aanvaar, dan is dit soveel makliker om daardeur te werk. Jy gaan dit nie omkeer nie, jy is nou waar jy is. Geniet dit.

FOTO Instagram / Elsabé Daneel


JONGSTE UITGAWE

NOVEMBER/DESEMBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees