SARIE.com het onlangs gesels met Estelle Pretorius, grimeerkunstenaar en stilis, wat gesorg het dat die Boer soek 'n vrou-aanbieder Marciel Hopkins eksieperfeksie lyk. Estelle deel raad om te verseker dat enigeen natuurlik én glansryk lyk wanneer jy voor die kameralens verskyn.
Beklemtoon jou natuurlike skoonheid
Tydens verfilming was dit vir Estelle belangrik om op ’n natuurlike voorkoms vir Marciel te fokus.
“My benadering met enige gesig wat ek grimeer, is om altyd hul natuurlike skoonheid te beklemtoon en aandag op die persoon se unieke gelaatstrekke te plaas.
“Marciel is van nature besonders beeldskoon en my benadering tot haar grimering en stilering op stel was altyd om haar natuurlike skoonheid te beklemtoon en nie te oorskadu nie.”
Kry Marciel se 'Boer Soek ’n Vrou'-voorkoms só
1. Berei jou vel met ’n vogroom en ’n basislaag voor.
2. Gebruik ’n dun lagie onderlaag om ’n egalige gelaat te skep. Estelle hou daarvan om ’n onderlaag wat klein bietjie warmer as Marciel se velkleur is, te gebruik om haar gesig op te helder.
3. Gebruik verbloemer wat ’n klein bietjie ligter as jou onderlaag is en wend dit onder jou oë, sowel as in die binne- en buitehoeke van jou oë aan. Skakeer dit met jou vinger of ’n sponsie in.
4. Skep diepte deur ’n verbronser diagonaal teen jou wangbene aan te wend (trek ’n denkbeeldige lyn van die bo-punt van jou oor na die buitehoek van jou mond en wend dit bo die denkbeeldige lyn aan). Verbronser kan ook teenaan jou slape, voorkop en aan die kante van jou neus vir ’n songekusde voorkoms aangewend word.
5. Wend blosser ook diagonaal bo die verbronser en teenaan jou wangbeen aan om ’n natuurlike rooskleurige voorkoms te skep.
6. Kam jou wenkbroue in ’n opwaartse rigting om jou wenkbroue voller te laat lyk en vul dit liggies met ’n potlood, poeier of jel in. Hou jou wenkbroue mooi in plek deur ’n wenkbrou-jel te gebruik.
7. Beklemtoon jou oë deur ’n neutrale oogskadu oor jou hele ooglid aan te wend. Definieer die buitehoek van jou oog met ’n donkerder skakering wat jy in ’n C-vorm tot by die eerste derde van die vou van jou ooglid aanwend. Wend dan ’n ligte kleur in die binnehoek van die oog aan om ’n wakker en oop voorkoms te skep.
8. Rond jou oë met die neutrale skakering teenaan jou waterlyn af. Wend dan oogomlyner bo-op jou ooglid teen jou wimperlyn aan.
9. Wend so paar lae maskara vir trefkrag aan. Moenie van jou onderste wimpers vergeet nie, dít laat jou oë groter lyk.
10. Kies ’n lekker donker- of helder lipstiffie om jou grimeervoorkoms mooi af te rond.
11. Spuit ’n laag grimeersproei oor jou hele gesig om seker te maak dat jou grimering langer hou.
- ‘Boer soek ’n vrou’ wys Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Catch Up en Showmax beskikbaar.