Rooi lipstiffie sal sekerlik nooit uit die mode gaan nie. Die tydlose trefkrag van die lipkleur maak dat dit supergewild bly. Vroue maak op die kleur staat om hul voorkoms sterk af te rond en die koppe te laat draai.
Die SARIE-skoonheidspan het met Marike Nel, SARIE Voorbladgesig 2013, oor dié vuurwarm grimeerproduk gesels. Marike is deesdae 'n grimeerkunstenaar vir die grimeerhuis MUD.
"Daar is net iets aan rooi lippe wat sê, ‘hiér is ek’," meen Marike. "Rooi trek aandag. Om so 'n sterk kleur op jou lippe te dra wys jy staan nie terug as vrou nie. Dit weerspieël 'n selfvertroue, verklap iets van jou siening van jouself. Rooi is ook elegant, energiek, kragtig en misterieus."