Sowat ’n derde van alle vroue sukkel een of ander tyd in hul lewe met haarverlies. Boonop begin die voorkoms daarvan toeneem onder ouer sowel as jonger vroue as gevolg van leefstylfaktore (soos stres, dieet en siekte) wat ’n ál groter rol speel.
“’n Vrou se hare is deel van haar persoonlikheid en speel ’n belangrike rol in die beeld wat sy aan die wêreld uitdra. Wanneer ons dan hare begin verloor – hoe opsigtelik ook al – kan dit ’n drastiese invloed op ons selfbeeld hê,” sê dr. Elfrieda Fourie, mediese dokter by die estetiese kliniek Anti-Aging Art in Johannesburg.
Dr. Maureen Allem, mediese hoof van die estetiesekliniekgroep Skin Renewal, stem saam en meen vroue is boonop onseker hoe om haarverlies reg te behandel en waar om hulp te soek. Daar is ’n magdom faktore wat bydra tot haarverlies. Oor sommige hiervan het jy beheer en oor ander nie. Ons het gaan uitvind wat belangrik is om te weet.