Danksy Squid Game en ander Koreanse reekse op Netflix en Oscar-bekroonde films soos Parasite, is daar ’n hernude obsessie met Koreanse kultuur, modes, skoonheid en meer. Ons almal is bewus van Koreaanse skoonheid of beter bekend as “K-beauty”, maar wat presies beteken en behels dit?
Wêreldwyd is Koreaanse skoonheidsprodukte topverkopers en supergewild. Dié produkte beloof om skoonheidsliefhebbers te help om tot ’n mate van die Koreaanse skoonheidsideale te bereik.
Verskeie webblaaie verwys na die strewe na ’n onskuldige tipe voorkoms. ’n Klein gesig met ’n gedefinieerde ken (V-vorm), ’n foutlose, stralende en ligte gelaat sowel as groot oë met ooglede waar die vou van die ooglid sigbaar is, is ideaal. Maar verskeie aspekte van hierdie gewensde voorkoms is onrealisties en daarom maak dit sin dat plastiese chirurgie supergewild in Korea is.