
Wat is dan nou lekkerder as om ná ’n lang dag in ’n bad te lê? Die kalmerende en strelende effek van bad en lekker badprodukte op jou gemoed is al sedert die antieke tye bekend. Dink maar aan die Egiptiese koningin Cleopatra wat glo gereeld in ’n mengsel van melk, heuning en roosblare gebad het … En deesdae beleef bad ’n reuse-herlewing!
’n Onlangse verslag oor skoonheidstendense deur die soekenjin Google, Beauty Trends 2017, wys dat verbruikers toenemend soek na produkte wat van badtyd ’n bederf-ervaring maak, soos om Engelse sout, appelasyn of gegeurde bruisballe (bath bombs) by jou badwater te gooi.
“Mense assosieer dikwels ’n warm bad met emosionele warmte,” sê Samantha Lockhart, nasionale instrukteur vir die spa- en lyfsorgproduktereeks MatsiMela. Dis hoekom ’n lekker warm bad so ’n kragtige uitwerking op jou gemoed kan hê. Dit laat jou kalmeer en ontspan en kan selfs gevoelens van eensaamheid laat wyk, sê Samantha.
Die Beauty and the Beast-aktrise Emma Watson het onlangs aan die skoonheidsblog Into The Gloss vertel dat sy elke dag van haar lewe bad. En as sy twee of drie keer per dag kan bad – nóg beter! “Niks slegs gaan in ’n bad gebeur nie, so ek maak altyd tyd om te bad. Ek sal selfs oproepe in die bad neem,” het sy aan Into The Gloss gese. Maar as jy dink ’n daaglikse badsessie (of twee) is baie, dink weer …
Die Amerikaanse modeontwerper Tom Ford het al verklap dat hy op ’n gewone dag tot vier keer bad: twee keer deur die loop van die oggend, saans voor hy uitgaan vir aandete en vir oulaas net voor hy gaan slaap! “Ek lê soggens dikwels vir ’n halfuur in die bad terwyl ek my gedagtes vryelik laat vloei. Bad is vir my soos meditasie, ’n manier om my voor te berei vir die dag,” het hy aan die Amerikaanse tydskrif Harper's Bazaar gesê.
Bestanddele soos Engelse sout, essensiële olies, kruie of appelasyn wat by jou badwater gevoeg word, kan ook voordele vir jou lyf inhou. Dit help om jou vel te bevog, die beskermende lipiedlagie aan te vul en om van gifstowwe in jou liggaam ontslae te raak.
Moet egter nie meer as een keer op ’n dag bad nie, waarsku Samantha. Buiten dat ’n vol bad baie water gebruik, kan te veel blootstelling aan kraanwater en harde seepbestanddele jou vel se natuurlike pH-balans versteur en die lipiedlaag beskadig. Dit kan lei tot inflammasie en ’n vel wat droog, rooi en jeukerig is. Neem die waterbeperkings in ag en geniet net een keer per week ’n spesiale bad-bederf.
Onthou ook dié waterbesparingswenke wanneer jy bad:
* Moenie die bad vol tap nie. ’n Bad wat net kwartpad vol is, is steeds luuks en ontspannend.
* Laat meer as een persoon in die badwater bad.
* Gebruik die gryswater ná jou bad om die toilet mee te spoel of om jou tuin nat te maak.
Probeer dié badprodukte:
1. MatsiMela Ginger & Lime Kalahari Bath Soak (R60)
Die geurige badsout bevat minerale wat jou vel se natuurlike beskermende lagie aanvul, terwyl gemmer en lemmetjie jou vars en uitgerus laat voel. Lê sowat 10 minute in dié mengsel. By uitsoekspa’s en losstaande winkels
2. Lush Bath Bomb in Big Blue of Sex Bomb (R60 elk)
Gegeurde bruisballe (bath bombs) is nou baie gewild. Probeer die Big Blue-bruisbal wat suurlemoen, laventel en seesout bevat of die Sex Bomb met soet jasmyn en ilang-ilang. By Lush-winkels
3. Satiskin Luxurious Bubble Bath in Forest Fern (R35 vir 1 liter)
’n Skuimbad bly maar net ’n bederf! Dié geur is verfrissend en perfek vir in die oggend
4. Sorbet Sleep Rescue Breathe Easy Bath Salts (R38)
Laventel en kamille in dié badsout help om jou lyf en gedagtes te kalmeer vir ’n rustige nagrus. By Clicks
5. The Body Shop Spa of The World Egyptian Milk & Honey Bath (R275)
Cleopatra was glo lief daarvoor om in ’n mengselvan melk, heuning en roosblare te bad. Dié poeier los op in jou badwater vir ’n luukse bad-bederf en laat jou vel supersag.