Dis lente en dit beteken broeke, swembroeke, rokkies en been wys. Maar voor jy weer van enige ongewenste hare ontslae raak, pasop vir dié vyf foute ...
FOUT: Jy skilfer nie gereeld af nie
’n Veluitslag of ingroeihare ná ’n skeer- of wakssessie is soms onvermydelik. Jou beste wapen is om die vel waar jy die hare verwyder het gereeld af te skilfer. Deur jou lyf minstens twee tot drie keer ’n week af te skilfer verwyder jy dooie en droë velselle. Dit voorkom dat enige haartjies tussen dié sellagies vasgevang word. Gebruik ’n growwe sponsie of ’n ligte lyfskrop.
FOUT: Jy skeer in die oggend
Probeer om eerder in die aand as in die oggend te skeer. Terwyl jy slaap, kan jou bene soms ’n bietjie opswel (veral in die somer) en dít kan veroorsaak dat die haartjies op jou vel dieper in hul follikels inkruip. Jou vel sal dan ná die skeer nie so glad voel nie.
FOUT: Jy skeer ná ’n lang bad
Ná ’n paar minute in die stort of bad word jou vel en haartjies sagter, wat dit makliker en minder ongemaklik sal maak om te skeer. Pas op net, aan die ander kant, dat jy nie té lank in die bad te lê nie, want dan kan jou haarfollikels weer opswel.
FOUT: Jy gebruik nie skeerroom nie
Gebruik altyd ’n skeerroom, -jel of lyfwas wanneer jy skeer. Dit help keer dat jy jouself raakskeer omdat ’n lemmetjie makliker oor gladde, sagte vel gly. Dit voorkom ook rooi knoppies weens irritasie. As jy nie skeerroom het nie, gebruik ’n lyfolie of selfs ’n bietjie haaropknapper.
FOUT: Jy gebruik jou skeermeslemmetjie te lank op ’n slag
Party vroue (en mans) kan vir maande aaneen dieselfde skeermeslemmetjies gebruik. Sodra jou skeermeslemmetjies begin dof lyk, moet jy dit vervang. ’n Skerper lemmetjie sorg vir ’n gladder skeer. Dit verminder ook die kans vir rooi knoppies of ’n uitslag weens bakterieë wat oor tyd onder die lemmetjies kan opbou.
Bronne: www.paulaschoice.com, www.allure.com