Op 30 trotseer sy daagliks die groeipyne van twee kleuters en twee tieners. “Dit is verskriklik uitdagend, maar die beloning oorskadu alles,” vertel die blondekop skoonheid.
Terwyl haar Springbok-man, Siya Kolisi, vir die Haaie uitdraf, staan Rachel die rol van ma vol vir hul twee krulkop-spruite, Nicholas en Keziah, en Siya se sibbe, Liyema en Liphelo. Die gesin gaan eers in Desember Durban toe trek.
Te midde van die pandemie en die ontworteling van hul gesin, het Rachel een ding oor haarself geleer: Sy kan baie op haar eie vermag.