Jou reuksintuig is jou sterkste sintuig. Reuk kan meteens jou aan ’n spesifieke geleentheid, plek of persoon laat dink. Jy ruik dalk nie altyd jou eie parfuum aan jou lyf nie, maar sodra jy iemand ’n drukkie gee ruik ander dit en vorm dit onmiddellik ’n geur-herinnering. Maar waar moet jy parfuum aan jou lyf spuit sodat dit lank hou?
In 2018 by ’n parfuum-werkswinkel, wat deur die luukse-ontwerphuis Montblanc aangebied is, het die Johannesburgse parfuum-kenner, Liz Ferrett vertel dat parfuum aan die warmste gedeeltes van jou lyf gespuit moet word. Die hitte veroorsaak dat die parfuum se geure ontwikkel en na vore kom sodat dit duideliker geruik word. Geure styg na bo, dus is dit ook slim om parfuum op laer gedeeltes van jou lyf aan te spuit, sê sy.
Hitte styg, só ook parfuum. As jy geur laer op jou lyf aanspuit, soos in die waai van jou knieë, styg dit deur die dag vir ’n aanloklike aura.