Tans is daar nie ’n spesifieke naelkleur wat die kollig steel nie. Die fokus is nou meer oor watter kleure jy saam kombineer om jou algehele naelvoorkoms te skep. Dis die ideale oplossing wanneer jy sukkel om ’n naellak-skakering te kies om jou naels mee te verf.
Dié naelgier fokus op die idee om skakerings van dieselfde warm- of koel kleurspektrum op die kleurwiel te kies. Dis juis die teenoorgestelde van die monochromatiese trend. Elke nael word ’n ander kleur geverf om sodoende ’n subtiele gradiënt van kleure te skep.
Die SARIE-Skoonheidspan het dié naelgier gaan beproef. SARIE se Skoonheidsredakteur, Monica Pienaar, het koeler skakerings van blou en grys gekies wat met ’n neutrale vleeskleur afgewissel is. SARIE se Skoonheidskrywer, Suanné Mulder, het pruim, kersierooi en ligte pastel skakerings gekies.