
Die meeste van ons weet te veel hittestilering kan ons hare erg verniel. Daarom is dit ’n goeie idee om elke nou en dan jou hare natuurlik te laat droog word pleks van droogblaas. Gelukkig is effens deurmekaar style nou in die mode!
"Hittelose haarstyle raak deesdae al hoe gewilder omdat vroue meer bewus word van watter skade oorstilering met hitte aan hul hare kan doen," sê Lizanne Mouton, kreatiewe hoof van die Gary Rom Hair-haarsalonne in Gauteng. Vroue verkies ook ál meer ’n moeitelose styl wat hul natuurlike haartekstuur beklemtoon eerder as wegsteek.
Maar vir baie van ons is dit makliker gesê as gedoen. Hare wat natuurlik droog word, is dikwels kroeserig, plat, leweloos en vol koeke. Hiér is raad!
Sny dit só:
Jy kan reeds met die regte haarsnit – een wat jou hare se natuurlike tekstuur in ag neem – verseker dat jou hare vanself mooi droog word. As jy fyn hare het, vra jou haarstileerder om jou hare met ’n haarsny-lemmetjie (eerder as ’n skêr) te sny, sê Lizanne. Dit help om tekstuur in jou hare te skep sodat dit voller lyk.
’n Haarsnit wat in lae gesny is, werk weer goed as jy krullerige hare het wat geneig is tot kroeserigheid. Dit gee vorm en volume sonder dat jou hare pofferig lyk as dit droog is.
Dit gaan alles oor die produkte:
Met hittelose haarstilering is die produkte wat jy op jou hare gebruik nadat jy dit gewas het, die belangrikste, sê Lizanne. Die regte produkte sal voorkom dat jou hare kroeserig of plat droog word en help om volume en definisie te skep. Wees op die uitkyk vir stileringsprodukte wat spesifiek ontwikkel is vir hittelose stilering, omdat dié produkte se bestanddele nie hitte nodig het om geaktiveer te word nie.
Kies reg:
1. Begin deur die regte sjampoe en opknapper vir jou haartipe te kies, sê Lizanne. As jy fyn hare het, is ’n produk wat jou hare met proteïen voed nodig om dit voller en sterker te maak, terwyl growwer, krullerige hare sal baat by ’n bevogtigende sjampoe en opknapper.
2. Wend daarna ’n haarmousse, krulroom of soutsproei op jou klam hare aan en druk (scrunch) dit dan met jou vingers opwaarts. As jy fyn hare het, fokus die produk op jou haarwortels en vir krulhare, begin by jou haarpunte en werk boontoe.
3. Sodra jou hare droog is, kan jy ’n poeier-haarsproei of droë sjampoe gebruik om nog volume en tekstuur te skep.
Wenk:
Om erge kroeserigheid te tem en jou hare glans te gee, wend ’n halwe spuitjie droë olie aan jou haarpunte terwyl dit klam is en weer ’n halwe spuitjie sodra jou hare droog is, sê Lizanne.
Stileer dit só:
Ingeleefde golwe
Om sagte, ingeleefde golwe sonder hitte in jou hare te skep, vleg jou klam hare in twee of vier vlegsels en laat dit droog word. Haal die vlegsels uit net voordat jou hare heeltemal droog is en skud die golwe effens los. Pasop dat jy jou hare nie té lank in die vlegsels hou nie, omdat dit té duidelik gedefinieerde kartels sal skep.
Groter golwe
Om groter golwe te skep kan jy jou klam hare in ’n bolla vasmaak. Die aktrise Blake Lively het al vertel dat dít die geheim agter haar veerkragtige krulle is. Sy wend klapperolie op haar haarpunte aan voordat sy dit was. Dan maak sy haar klam hare in ’n bolla vas en laat dit droog word. Die bietjie olie wat ná die was op haar haarpunte agterbly, sorg vir mooi golwe sonder dat sy dit met hitte hoef te stileer.
Halwe opstyl
Dié halwe bolla-opstyl is tans supergewild onder bekendes. Dis so maklik! Maak die boonste helfte van jou hare in ’n deurmekaar knoop-bolla vas en hou die res van jou hare los.
Probeer dié top-produkte:
1. Redken Texturize Rewind 06 Pliable Styling Paste (R380)
Die stileerwaks is perfek om kort hare tekstuur te gee. By uitsoeksalonne en Dis-Chem
2. L'Oréal Paris Studio Pro Boost It Volume Mousse (R100)
Gee fyn hare ekstra volume by die wortels.
3. Inoar Argan Oil Hair Shine Spray (R450)
Spuit die sproei aan jou klam hare om te keer dat jou natuurlike krulle kroeserig droog word. By uitsoeksalonne
4. Gary Rom Haircare Foundation Spray (R265)
Die stileersproei gee nie net volume nie, maar beskerm ook jou hare teen buitefaktore. By Gary Rom-haarsalonne
5. Dove Nutritive Solutions Nourishing Oil Care Shampoo (R50 vir 250 ml) en Conditioner (R50 vir 200 ml)
Voedende olies in die sjampoe en opknapper help om kroeserigheid te tem.