Aktiewe bestanddele wat goed nagevors en kragtig is en sigbare resultate lewer, raak ál meer die goue standaard in velsorg. Maak dié kragtige suur vandag nog deel van jou roetine as jy met aknee of melasma sukkel.
Dit word natuurlik in koring, rog en gort gevind. Dié suur is nog relatief onbekend in velsorgprodukte, maar beslis een om voor op die uitkyk te wees omdat dit meer as een effek in die vel het, sê dr. Ian Webster, ’n spesialis-dermatoloog op Somerset-Wes en medestigter van die aanlyn velsorgwinkel Dermastore.
Dié suur geniet al hoe meer aandag danksy sy vermoë om aknee en die vorming van hiperpigmentasie doeltreffend te beveg. Dit voorkom puisies deur inflammasie op die veloppervlak te verbeter en vernietig bakterieë wat aknee veroorsaak. En omdat dit tirosinase, die ensiem wat melanien vervaardig, blokkeer, is dit ’n goeie behandeling teen melasma (pigmentasie weens hormoonveranderings) en die klein bruin vlekkies wat dikwels agterbly ná erge aknee.