Tienerwees is ’n opwindende, maar ook dikwels ’n vreesaanjaende fase danksy talle veranderinge fisies en emosioneel. Jy probeer jouself en die wêreld verstaan: Wie is ek? Wat is my doel? Is ek okay?
Weens puberteit en hormoonskommelinge wat jou velanatomie beïnvloed, is jou tienerjare gewoonlik sinoniem met velprobleme.
Zoya Nell, programkoördineerder van somatologie aan die Isa Carstens Akademie, sê tieners sukkel meestal met twee dinge: ’n Olierige, blink vel of ’n rooi vel. “Jou vel kan blink as gevolg van oortollige olie of rooi wees weens die gebruik van verkeerde produkte wat die vel beskadig en nie help nie.”