Yolandé Swanepoel, akademiese hoof by die Isa Carstens Akademie, deel vier maklike wenke waarmee jy jou begroting én jou vel gesond kan hou.
Wenk 1: Sonskerm én 2-in-1 produkte
As daar een produk is wat jy nie moet afskeep nie, is dit ’n sonskerm. Baie van die nuut-geformuleerde sonskerms op die mark help jou om ’n bietjie meer te spaar.
Hoe so? Wel, dié produkte bevat dikwels aktiewe bestanddele vir teenveroudering, wat beteken dit kan maklik as ’n dagroom en ’n sonskerm dien.
Sommige sonskerms bevat ook ’n bietjie kleur, sodat dit as sonblok en onderlaag kan dien.
Wenk 2: Maak dit self
Vir die versorging van die liggaam, maak jou eie afskilferaar deur suiker en olyfolie te meng. Moet eerder nie dié tuisgemaakte afskilferaars op jou gesig gebruik nie, maar dit bly baie effektief op die liggaam om jou vel te vernuwe en te bevogtig.
Wenk 3: Prioritiseer
Besluit wat is jou vel se grootste behoefte en spandeer ’n bietjie meer geld op daardie produkte.
Sou jy met ander woorde voel jou vel benodig hulp met teenveroudering, spandeer ’n bietjie meer op nagrome met goeie aktiewe bestanddele wat die probleem doeltreffend kan aanspreek, en minder aan byvoorbeeld reinigers en dagrome.
Wenk 4: Nagroom wat afskilfering aanhelp
Deur ’n nagroom te gebruik wat ook afskilfering van die vel aanhelp soos AHA en Retinol, kan jy jou afskilfer-room vervang én die tydperk tussen duur behandelings by die skoonheidsalon langer rek.
* SARIE Nuwe Gesig & SARIE Voorbladgesig word met trots gebord deur Isa Carstens Akademie.