‘Bacne’ veroorsaak dat baie vrouens verskeie items in hul kas vermy, aangesien dit juis hulle skouers en rug wys.
So hoe gemaak om hierdie tameletjie te behandel? Die SARIE-skoonheidspan het Delene Lacock, dosent by die Isa Carstens Akademie in Stellenbosch genader vir raad en slim wenke.
“Rug- of borsaknee is gewoonlik erger as aknee op die gesig. Dit vorm as gevolg van ’n opeenhoping van dooie velselle en sebum binne die porieë. Hierdie verstopping veroorsaak ’n opeenhoping van bakterieë wat ’n inflammatoriese reaksie tot gevolg het. Die vel op die rug is dikker en daarom kan die aknee dieper onder die vel sit wat tot meer inflammasie lei,” verduidelik Delene.