
Met die lente in aantog jeuk jou hande om iets nuuts in jou huis te doen. Maar voor jy aan die koop raak, doen eers die volgende:
1. Ruim jou koffietafel op en skep ’n mooi tafellandskap daarop. Vermy tafellopers of -doeke en lappies op ’n koffietafel. Minder is mooi. Die eienaar van hierdie huis in Pretoria verstaan die kuns om ’n interessante koffietafel-uitstalling te skep.
2. Hou so min as moontlik goed op jou kombuistoonbank en -werkvlak. Sodoende lyk jou kombuis dadelik netjieser. Dit is Herman Lensing, ons kosredakteur, se wen-wenk vir sy kleurryke kombuis.
3. Moenie skilderye te hoog of te laag hang nie. Die korrekte hoogte is ooghoogte (omtrent 165 cm van vloer af gemeet). Skilderye deur Elsbeth Eksteen, www.elsbeth-eksteen.blogspot.com
4. Laat jou huis lekker ruik. Kook suurlemoenskille, kaneelstokkies en naeltjies vir 10 minute in ’n pot op die stoof, of brand lekker geurkerse.
5. Pak los goed weg in mooi mandjies.
6. Plaas huisplante in mooi potplanthouers om die bruin plastiekpot weg te steek. Versorg jou huisplante goed – ’n verlepte of stowwerige plant laat ’n vertrek verwaarloos lyk, nes ’n vaas met dooie blomme. Plant- of bêresakke van Skinnylaminx.com