
Groot dele van ons land is steeds erg droog, en veral in Kaapstad is sake kritiek. Die stad het skaars 130 dae se water oor – en dis mits almal 40% minder water gebruik, berig eNCA. Elke mens moet nou inspring en elke druppel spaar wat hulle kan.
Ons almal weet nou al van gryswater en die emmer in die stort en baksteen in die toiletbak, maar hier is nog ’n paar waardevolle wenke wat jy kan probeer om jou plante en tuin deur die droogte te help.
1. Gooi ’n dik laag boombas of selfs kompos in jou beddings (moenie dit inspit nie) om die vog in die grond te hou.
2. Gee jou plante ’n ligte somersnoei.
3. Gee jou plante gereeld voeding om hulle sterker te maak. Sterk plante oorleef makliker ’n droogte.
4. Maak steggies van die plante wat in hierdie tyd oorleef en beplant jou tuin daarmee wanneer die droogte verby is.
5. Vervang die plante wat jy verloor het, met waterwys struike, kaktus- of vetplante.
6. Hou die water waarin jy groente en eiers kook, laat dit afkoel en gee dit vir jou potplante – dis vol voedingstowwe!
7. Vang reënwater op deur emmers uit te sit as ons ’n welkome reënbui kry.
8. Vervang jou grasperk met inheemse bome en ’n interessante "woudpaadjie" van gruisklippe of plaveiblokke wat na ’n sithoekie lei. Jy sal op die lang duur baie geld en water spaar.
9. Skep ’n potte-tuin met vetplante. Dit verg minder moeite en water en kan ’n mooi groen kol in jou tuin maak.
10. Moenie moed verloor vir water aandra nie, dit gee jou mooi arms en is goeie oefening.